Christa le Roux - 'n Lewe

Ek sien jóú raak T ussen al die veeleisende aansprake op haar as skoolhoof was sy deurentyd op die hoogte van individuele leerders se behoeftes. Niks het haar moederlike oog ontglip nie. Sy het gereeld leerders ingeroep om met hulle oor punte, persoonlike omstandighede of beroepskeuses te gesels. Hierdie gebare van opregte belangstelling en warm menslikheid word steeds onthou. Marianna Brink (née Mostert) skryf in ’n huldeblyk: “Eendag, ons was in matriek, het sy my na haar kantoor geroep. Dit was na ’n eksamen en ek het dadelik geweet waaroor dit gaan. Ek was nooit iemand vir tale nie en my Afrikaanse en Engelse punte het my gemiddelde punt baie beïnvloed. Ten spyte van my bewerasie en droë mond, het sy my gemaklik laat voel. Haar woorde ‘ek weet jy kanʼ het ek met my saamgeneem en was my inspirasie ná skool en in my loopbaan. Ek was positief en selfversekerd. My suksesstorie het by Juffrou Le Roux begin.” Nog ’n leerder uit die sewentigerjare, Magda Gadd-Claxton (née De Vries), skryf ná mej. Le Roux se dood: “Ek sal Juffrou Le Roux altyd onthou as die juffrou wat my die eerste dag by die skool soveel moed ingepraat het dat ek kans gesien het vir alles. Sy was ’n dierbare mens. Ek was maar baie bang om van ’n klein skool in die platteland na die groot skool toe te kom. La Rochelle – en Juffrou Le Roux – het my gehelp om positief te wees en nie moed op te gee nie.” Wanneer iemand aan mej. Le Roux se kantoordeur geklop het, het sy haar werk onderbreek om te luister. Annette Klem (née Roux), hoofdogter in 1964, skryf: “Juffrou Le Roux se kantoor was altyd vir ons as leerlingraad oop. Sy het goeie raad gegee en ook ’n lekker sin vir humor gehad. Ek het baie mooi herinneringe van haar.” Een van die 1964-matrieks onthou met deernis: “Ek het in st. 9 my voet in die liggaamsopvoedingklas seergemaak. Dit was seker so teen elfuur se kant. Juffrou Le Roux wou my nie huis toe laat gaan nie, want dan sou my skool-teenwoordigheidsprys in gedrang kom. Ek moes in mej. Du Toit, die sekretaresse, se kantoor sit tot aan die einde van die skooldag. Juffrou Le Roux het my toe self met haar motor huis toe geneem, saam met my geloop tot by die voordeur en my oorgegee aan my ma. Ek was haar ewig dankbaar, want met die prysuitdeling daardie jaar het ek my boekprys vir 9 jaar teenwoordig,

Christa le Roux – ’n Lewe 32

Made with FlippingBook Digital Publishing Software