BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF

Daar word aanvaar (Tabel 8 in Hoofstuk 5) dat sowat 4 kg ha –1 N per seisoen vir die produksie van 1 ton druiwe benodig word, wat neerkom op ’n jaarlikse N-verbruik van 120 kg ha –1 . Soos in Hoofstuk 5 aangetoon, kan produksie egter nie as algemene maatstaf vir die berekening van bemestigsbehoeftes gebruik word nie, veral omdat grondtipe ook in aanmerking geneem moet word. Op sanderige gronde kan 120 kg ha –1 N toegedien word, sonder om die houvermoë (voorkoms van Botrytis-vrot na koelopberging) te benadeel, terwyl Botrytis-vrot reeds relatief hoog kan wees vir gronde met hoër organiese materiaal-inhoude, selfs waar geen N toegedien word nie (sien Figuur 5 in Hoofstuk 5). ’n Wingerd se N-voedingstatus en groei word egter nie slegs deur die organiese materiaalinhoud van die grond bepaal nie, omdat ander faktore, soos grondeienskappe, besproeiingsbestuur, bostok/onderstok-kombinasie en klimaat, ook ’n rol speel. Vegetatiewe groei word dus as die betroubaarste aanduiding van wingerd se N-voedingstatus beskou , omdat dit al die bogenoemde faktore insluit. Die norme wat gebruik word om groeikrag te evalueer, tesame met die toepaslike bemestingsriglyne is in Hoofstuk 5 bespreek. Vir wingerde wat swak groei, word N-bemesting aan die hand van die seisoenale aanvraag in ’n mimimum van drie paaiemente toegedien, nl. sowat drie weke na bot, kort voor blom en/of op ertjiekorrelstadium en laastens weer net na oes. Vir wingerde wat ideaal groei, kan grootliks weggedoen word met die toediening teen vrugset, indien die volle lower reeds tydens blom gevestig is en aktiewe groei steeds voorkom. Vir wingerde wat geiler groei, kan ook weggedoen word met die toediening na bot. Naoes-bemesting sal slegs weggelaat word vir wingerde wat heeltemal oorgeil is. FOSFOR Daar bestaan baie min feite oor P se direkte rol op druifsamestelling en druifkwaliteit, alhoewel daar aanvaar word dat oormatige hoë P-vlakke wel K-opname kan benadeel (Conradie & Saayman, 1989). Vanweë die rol wat P speel in die benutting van koolhidrate en energieverskaffing tydens groei, kan ’n P-tekort die wingerd se vermoë om aktiewe groei tydens korrelvergroting vol te hou, benadeel. Gevolglik word seldeling en reaksie op vergrotingspuite negatief beïnvloed en kleiner korrels mag die uiteindelike gevolg wees. KALI UM Die rol van K in selgroei binne die korrel, is deur Mpelasoka et al. (2003) uitgelig, met spesifieke verwysing na die rol wat dit speel in die proses waar selwande in die dop los van mekaar raak, sodra deurslaan aanbreek en die korrel se selle dus vinnig begin uitsit. Hierdie hele proses word geïnisieer deur ensieme wat onder die invloed van K geaktiveer word en daarvoor verantwoordelik is dat die selwande van mekaar skei. Die rol van K in die uitsetting van korrels se selle en korrelgroei is dus krities. Verder is daar ’n duidelike korrelasie tussen korrels se K-inhoud en beide suiker en droëmassa- akkumulasie gevind. Waar K-tekorte voorkom, word ongelyke rypwording van korrels in dieselfde tros (Figuur 28) ’n probleem (Mullins et al ., 1992).

98 | DIE VERWANTSKAP TUSSEN BEMESTING, DIE VOEDINGSTOFSTATUS VAN ’N WINGERD EN DRUIFKWALITEIT

Made with FlippingBook - Online magazine maker