BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF
invloed op die uiteindelike druifsamestelling en gevolglik houvermoë/kwaliteit. Die belangrikste bevindinge uit plaaslike sowel as oorsese navorsing met betrekking tot die verwantskap van spesifieke voedingstofelemente met druifkwaliteit, waarvan sommige reeds in Hoofstuk 5 vermeld is, word volledigheidshalwe hieronder saamgevat. STI KSTOF Stikstof het ’n positiewe effek op groei, maar maksimum vrugopbrengs (vrugbaarheid) word by ’n laer N-voedingspeil verkry as dié waarby maksimum vegetatiewe groei verkry word. Waar daar egter nie aktiewe groei in die periode na set voorkom nie, sal die reaksie op korrelvergrotingsbehandelings (bv. GA 3 of sitokinien) nie na verwagting wees nie. Wingerd met ’n lae N-voedingstatus toon ook kleiner korrelgrootte en laer titreerbare suur, veral melksuur (Choné et al ., 2006). Aan die ander kant kan ’n oormaat stikstof, ook as gevolg van oorgeil groeitoestande, tot groter “opgeblase” korrels lei, wat ’n verdunningseffek op die kleur en geurstowwe het, en wat natuurlik nadelig is vir kwaliteitproduksie. By hoë N-voorsiening (veral na deurslaan) neig selle origens om groter te wees, wat ’n negatiewe uitwerking op houvermoë en siektebestandheid kan hê. ’n Indirekte gevolg is dat groter blare en langer lote tot lowerverdigting kan lei (Figuur 26) en dus gunstige toestande vir siektes (veral Botrytis-vrot) kan aanhelp, asook verminderde sonligpenetrasie, met negatiewe gevolge op veral kleur, maar ook algemene kwaliteit. Koolhidrate wat uit fotosintese verkry word, word dan gebruik vir die vervaardiging van protoplasma en is gevolglik nie beskikbaar vir akkumulasie van bv. suiker nie, wat tot ’n vertraging van rypwording lei. In situasies van ’n oorvoorsiening van N is ook gevind dat druiwe se doppe dunner is, suiker-akkumulasie traag is en suurvlakke daarmee daal (Keller et al ., 1998). Daar is dan ook gevind (Ruiz et al ., 2004) dat daar ’n korrelasie is tussen aminosuur-N-vlakke van druiwedoppe en die voorkoms van sagte korrels by Thompson Seedless. Hierdie korrelasie is voorts ook tussen die aminosuur-N en putresien gevind. Laasgenoemde word verbind met sterwende/dooie weefsels, en gevolglik die voorkoms van sagte korrels. Dit kom daarop neer dat oorvoorsiening van N tot die voorkoms van sagte korrels aanleiding gee. Lae koolhidraatreserwes en groot selle kan ook bydra tot die rypgevoeligheid van wingerd. Oormatige toedienings kan verder lei tot rouband (water berry/pallo negro) en ’n algemene afname in koolhidraatinhoude van plantweefsels. Te veel stikstof in verhouding tot kalium tydens die lenteperiode kan lei tot bladrandvergeling en nekrose (Figuur 27), terwyl dit ook aanleiding gee tot valse simptome van K-tekort.
96 | DIE VERWANTSKAP TUSSEN BEMESTING, DIE VOEDINGSTOFSTATUS VAN ’N WINGERD EN DRUIFKWALITEIT
Made with FlippingBook - Online magazine maker