BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF

HOOFSTUK 6

ROTSFOSFAAT Sagte rotsfosfaatprodukte met P-konsentrasies wat wissel tussen 14 en 16% is beskikbaar. Sagte rotsfosfaat is gemynde sedimentêre gesteentes (Apatiet–kalsium- fosfaat) waarvan die P-inhoud kan varieer van 3% tot 16%. Dit het ’n hoë Ca-inhoud (30 – 40%) en is daarom veral geskik vir gebruik op lae-pH-gronde, waar die CaO help met die verhoging van die pH. Hierdie produkte is geskik vir P-regstellings met grondvoorbereiding en word ook toegelaat in die meeste organiese sisteme. Produsente moet egter die bepalende fatore in ag neem wanneer daar besluit word oor die P-bron wat gebruik gaan word. DEKLAE EN DEKGEWASSE Alhoewel deklae nie deel van die bemestingsprogram is nie, is dit tog deel van die algemene grondsorgprogram wat jaarliks onderhou moet word. Indien vars organiese materiaal met ’n hoë C/N-verhouding aan die begin van die seisoen as deklaag gebruik word, moet die N-bemesting met ongeveer 10% verhoog word ten einde te kompenseer vir die N wat verbruik sal word in die mikrobiologiese afbreekproses van die organiese materiaal. Die voordele van deklae word nie hier behandel nie, maar die die volgende aspek moet tog uitgelig word. Deklae verhoog die grond se organiese inhoud, en daarmee saam die mikrobe-aktiwiteit in die bogrond. Dit lei tot ’n verhoogde ontwikkeling van ’n netwerk fyn wortels in hierdie sone. Hierdie wortels speel ook ’n belangrike rol in die opname van voedingstowwe, maar is blootgestel aan groot fluktuasies van vog en temperatuur. Die beskerming en instandhouding van hierdie wortels deur die korrekte besproeiingskedulering, veral tydens die laaste deel van die seisoen – insluitende na oes – is belangrik ten einde volgehoue voedingstofopname te verseker. Dekgewasse speel ’n indirekte rol in die bemestingsprogram deurdat dit bydra tot die algemene verbetering van grondgesondheid op die volgende maniere: • Verhoging van die organiese inhoud van die grond – dit stimuleer mikrobe-aktiwiteit, verhoog die grond se vermoë om water en voedingstowwe vas te hou. • Beskerming van grondoppervlak – beter waterinfiltrasie, minder fluktuasie in grond- temperatuur. • Verskaffing van plantvoedingstowwe – stadige vrystelling van voedingstowwe deur die mineralisering van die organiese materiaal, en N d.m.v. die N-binders soos medics, klawers en seradella. • Verhoging van die biodiversiteit van die sisteem – dit geskied deur wisselbou en kombinasies van verskillende dekgewasse. Om die voordele van dekgewasse te ontsluit, is dit belangrik dat dit reg bestuur word in terme van saadbedvoorbereiding, bemesting en wisselbou.

BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF | 91

Made with FlippingBook - Online magazine maker