BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF
HOOFSTUK 6
Die gebruik van wateroplosbare kunsmis word gekompliseer wanneer die grond in die lente/vroegsomer nat bly, aangesien besproeiing nie onder hierdie toestande nodig is nie. Besproeiing, slegs om kunsmis toe te dien, kan dus tot loging van voedingstowwe in die wortelsone lei. Voorts kan wortels ook nie voedingstowwe effektief opneem, as grondtemperature nog laag is nie. Uitloging van voedingstowwe vind dan ook maklik plaas tydens besproeiing. Dit is dus beter om met die eerste bemestingstoediening te wag tot die grondtemperatuur begin styg (> 15 °C), en dit dan met ’n ligte besproeiing toe te dien. Vloeibare kunsmis – die produkte wat die algemeenste gebruik word is UAN(32) en AN(19). Die gewildheid van hierdie produkte relatief tot wateroplosbare kunsmis het afgeneem, omdat vervoer en stoor daarvan dikwels moeilik en duur is. Die risiko’s of praktiese implikasies van die gebruik van hierdie produkte is soortgelyk aan dié vir wateroplosbare produkte. Stadigvrystellende kunsmis – Daar is ’n aantal produkte op die mark met verskillende formulerings en vrystellingsperiodes. Die tegnologie van die vervaardigers daarvan het in die laaste tyd baie verbeter en die vrystelling van die voedingstowwe vanuit die korrels is baie meer gekontroleerd. Alhoewel die produkte duurder is as gewone kunsmis, het dit potensieel goeie toepassings by die vestiging van nuwe blokke, voeding van inboetstokke en behandeling van swak kolle binne bestaande blokke. Behalwe vir die regte keuse van ’n produk, is die plasing van die produk ook belangrik, veral in drupbesproeide wingerde. Verrykte organiese misstowwe – hoendermis en kunsmis word in verskillende verhoudings met mekaar vermeng om verrykte organiese misstowwe te vorm. Daar is ’n verskeidenheid formulerings (12-3-3(18), 10-2-6(18), 9-2-9(20), ens.) en handelsname vir hierdie produkte. Die produkte het gewoonlik ’n laer voedingstofkonsentrasie as suiwer kunsmis, en is beskikbaar as ’n verpilde produk (4 mm-pilletjie) of as ’n poeiermengsel. Verpilde produkte hanteer makliker met kunsmisstrooiers, maar die poeierprodukte het die voordeel dat dit vir spesifieke gebruike/toestande geformuleer kan word. Die gebruik van die verrykte organiese produkte het gewild geword, omdat dit ’n organiese komponent tot die normale bemestingsprogram byvoeg, wat in verskeie opsigte as voordelig vir grond- en plantgesondheid beskou word. Alhoewel hierdie produkte normaalweg toegedien word in volumes wat nie die grond se organiesemateriaalinhoud betekenisvol sal verhoog nie, blyk dit dat dit tog ’n stimulerende effek op grondmikroörganismes kan hê. Verder vind die vrystelling van voedingstowwe stadiger plaas vanuit die verpilde produk, en verhoed dit onnodige loging van voedingstowwe. IMPAK VAN MI SSTOWWE OP GROND Grondversuring Versuring onder druppers as gevolg van die toediening van bemestingstowwe (veral N) deur die druppers, is ’n daadwerklike gevaar en moet gemonitor en bestuur word. Indien dit nagelaat word, kan wortelgroei in en die opname van voedingstowwe vanuit
BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF | 87
Made with FlippingBook - Online magazine maker