BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF

HOOFSTUK 6

Na oes – hierdie is ’n baie belangrike fase, want die voedingstowwe wat tydens hierdie fase opgeneem word, word as reserwes in die stok gestoor vir gebruik gedurende die volgende seisoen. Die noodgedwonge verskil in voedingsbestuur van vroeë en laat kultivars tydens hierdie fase, word in Hoofstuk 5 bespreek. Afgesien van die wingerd se opnamepatroon van voedingstowwe, speel omgewingsfaktore soos grondtemperatuur ook ’n groot rol. In die lente begin aktiewe wortelgroei, en dus voedingstofopname, eers wanneer die grondtemperatuur bokant 13 – 15 °C is. Bemesting deur die besproeiingstelsel in hierdie vroeë stadium is dus nie wenslik nie. Op sandgronde is daar ’n risiko van loging en op kleigronde lei dit tot ’n verhoogde konsentrasie van soute in die wortelsone wat die nuwe wortelgroei mag belemmer. BEMESTI NGSPRODUKTE Produkte vir plantvoeding kan groepeer word as: • Anorganiese kunsmis : vier tipes kom voor, naamlik korrelkunsmis, wateroplosbare kunsmis, vloeibare kunsmis en stadigvrystellende kunsmis. • Organiese misstowwe : voorbeelde sluit hoendermis, beesmis en kompos in. • Verrykte organiese produkte: dit is gebalanseerde kombinasies van die bogenoemde en mag ook kalk en gips in hul formulering bevat. Korrelprodukte – aangesien hierdie produkte gerieflik is om te hanteer (en dikwels ook die goedkoopste), kan dit met die hand of deur die kunsmisstrooier toegedien word. ’n Groot verskeidenheid produkte is beskikbaar. Dit sluit enkelvoudige produkte soos Ureum (N), KAN (N), Dubbelsuperfosfaat (P), Kaliumchloried (K), Kaliumsulfaat (K) en mengsels soos 3-1-5(37) en 1-0-1(44) in. Kunsmismengsels se elementkonsentrasies word algemeen in ’n spesifieke “notasie” aangedui. Hieronder word ’n voorbeeld gegee, wat aandui hoe om dit te interpreteer: Kunsmis: 3-1-5(37) Die N:P:K-konsentrasies word as ’n verhouding tot mekaar in die 3-1-5-notasie aangedui. Dit wil sê daar is drie keer soveel N in die produk as P, en vyf keer soveel K as P. Die (37) dui op die totale konsentrasie van plantvoedsel (N+P+K) in die produk, uitgedruk as ’n persentasie. Die N-, P- en K-konsentrasies kan dus soos volg individueel bereken word: N = 3/(3+1+5) x 37 = 12.3% P = 1/(3+1+5) x 37 = 4.1% K = 5/(3+1+5) x 37 = 20.6% Om te kontroleer of dit reg bereken is: 12.3% (N) + 4.1% (P) + 20.6% (K) = 37%

BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF | 85

Made with FlippingBook - Online magazine maker