BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF
Bemesting kan dus net effektief wees, indien die wortelsone gesond is en reg bestuur word. ’n Gesonde wortelsone is dus die “buffer” wat die produsent en die wingerd help om ongunstige omgewings-/klimaatsomstandighede te oorkom. Regte tyd van toediening – die plasing van plantvoedingstowwe in die regte verhoudings binne die wortelsone, verseker dat dit gedurende die seisoen, soos dit benodig word, deur die stokke opgeneem word. Daar is twee benaderings tot die bestuur van die bemestingstoedienings: Konstante voeding – die wingerd se berekende NPK-voedingsbehoefte word eweredig deur die loop van die seisoen toegedien. Die benadering sorg dat alle voedingstowwe in gebalanseerde verhoudings regdeur die seisoen besikbaar is, en die plant dus na behoefte kan opneem. Regstellingsbemesting – die P- en K-behoeftes word reggestel volgens die norme in Hoofstuk 5 en daarna word daar dan hoofsaaklik met N bemes. Hierdie praktyk is meer geskik vir gronde met ’n hoë klei-inhoud en ook waar korrelbemesting gebruik word. In Tabel 10 van Hoofstuk 5 word die seisoensopname van N, P, K, Ca en Mg oor die verloop van die groeiseisoen vir elke groeistadium aangedui en uitgedruk as ’n persentasie van die jaarlikse opname. Hierdie opnamepatroon kan gebruik word as riglyn om die totale jaarlikse hoeveelheid wat benodig word, op te deel in toepaslike paaiemente. Aangesien groeikrag die belangrikste faktor is wat N-bemestingspraktyke rig, moet dit tydens elke fenologiese stadium geëvalueer word, en N-bemestingspeile dienooreenkomstig aangepas word (Tabel 12 van Hoofstuk 5). Vanweë die nodigheid om teen blom reeds ’n volledig ontwikkelde blaredak te vestig, terwyl groeikrag moet verlangsaam nader aan deurslaan, sal N-bemestingspeile waarskynlik afwyk van die normale seisoenale patroon van N-opname. By wingerde met gemiddelde groeikrag mag ’n swaarder klem op N-bemesting nodig wees voor blom, maar minder as die groeistadium se behoefte kan tussen set en deurslaan toegedien word. Soos in Hoofstuk 5 aangedui, kan die groeiseisoen van die wingerdstok in vier fases verdeel word, wat dan ook gebruik word as die fases vir bemestingstoedienings: Bot tot blom – tydens hierdie fase vind die grootste persentasie van die stok se vegetatiewe groei plaas. By vroeë kultivars kan die fase baie kort wees. Let ook op die kommentaar oor grondtemperatuur later in hierdie hoofstuk. Na set – voldoende lower/blaar-oppervlak kort na set is noodsaaklik ten einde die stokke in staat te stel om die nodige korrelvergroting- en rypwordingsprosesse te optimaliseer. Deurslaan – gedurende die rypwordingsperiode moet maksimale translokasie van suiker en kleurontwikkeling verseker word. In hierdie periode moet aktiewe vegetatiewe groei nie met die trosse vir koolhidrate vanaf die blare kompeteer nie. Tog moet daar genoegsame voedingstowwe beskikbaar wees om in die stokke se voedingsbehoeftes te voorsien.
84 | PRAKTIESE RIGLYNE VIR DIE IMPLEMENTERING VAN DIE BEMESTINGSPROGRAM
Made with FlippingBook - Online magazine maker