BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF
HOOFSTUK 6
Bemesting op sande moet liefs in klein paaiemente op ’n gereelde basis toegedien word. Dit is omdat sandgronde nie die vermoë het om voedingstowwe vas te hou nie, en die toegediende voedingstowwe maklik uit die sisteem geloog kan word. Op kleigronde wat beter gebuffer is, kan die toedienings groter wees, want die risiko van loging is baie kleiner. ’n Verdere aspek om in gedagte te hou, is dat bemestingstowwe eintlik soute is en dat groot paaiemente die soutlading in die wortelsone verhoog. Dit kan ’n tydelike negatiewe reaksie op wortelgroei en voedingstofopname hê. Oorbemesting is nie net ’n vermorsing van geld nie, maar dit het ook ander negatiewe effekte: • Loging van bv. N en K wat grondwater en dus die omgewing besoedel. • Opbou van sekere voedingselemente, bv. P en K in die wortelsone, veroorsaak wanbalanse wat die opname van ander voedingselemente kan belemmer. • ’n Oormaat K in die wortelsone kan dieselfde negatiewe effek hê as hoë konsentrasies Na, en kan wortelgroei nadelig beïnvloed. • ’n Oormaat N stimuleer onnodige vegetatiewe groei wat swak kwaliteit veroorsaak en addisionele arbeidsaksies verg om die geilheid te beheer. Regte plek van toediening – die plasing van die produk binne die wortelsone vir opname deur die stokke, verseker effektiewe benutting van die toegediende produkte. Hier speel die besproeiingstelsel en skedulering ’n groot rol. Die effektiwiteit van die bemesting is direk afhanklik van die effektiwiteit van die besproeiing. Ander faktore wat in ag geneem moet word, is die teenwoordigheid van en tipe deklaag, waterinfiltrasie/ afloop, vorm van operdwalle en variasies in die weerpatrone. ’n Gesonde wortelstelsel is die primêre vereiste vir gesonde groei. Indien die wortelsone nie gunstige groeiomstandighede vir die wortels bied nie, kan die stok nie optimaal funksioneer nie. Die volgende komponente van die wortelsone moet bestuur word: • Grondchemie – dit sluit in die handhawing van die regte pH, korrekte balansering van die verhoudings tussen die voedingselemente en die bestuur van die soutlading in dié sone. • Waterhuishouding – suurstof in die wortelsone is net so belangrik as water. Omdat lug en water meeding vir dieselfde porieë in die grond, bepaal besproeiingsbestuur nie net die hoeveelheid water in die wortelsone nie, maar ook die hoeveelheid lug/ suurstof. Oorbesproeiing vermors dus nie net water en loog voedingstowwe nie, maar ontneem die wortelsone van suurstof. • Grondfisika – fisiese beperkinge as gevolg van swak grondvoorbereiding, verdigting of foutiewe plantgate belemmer wortelgroei en ook waterverspreiding. Hierdie probleme manifesteer dikwels as swak kolle binne die blok, groot variasie in die groei van stokke of sekondêre tekortsipmtome. Opheffing van hierdie beperkinge is dikwels problematies. • Biologiese akiwiteit – ’n gesonde, diverse mikrobiologiese populasie is essensieël vir ’n gesonde wortelstelsel. Die mikroörganismes speel ’n belangrike rol in die ingewikkelde biochemiese prosesse in die grond, en in die kontaksones tussen die grond en plantwortels, om voedingstofopname en wortelgesondheid te verseker.
BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF | 83
Made with FlippingBook - Online magazine maker