BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF
HOOFSTUK 5
Molibdeen (Mo) Skalie en graniet is die gesteentes met die hoogste konsentrasies Mo, met die bekendste minerale in die vorm van sulfied, oksied en molibdate. In grond kom dit oorwegend as molibdaatione voor, wat by lae pH’s deur die positiewe ladings geadsorbeer word. Die konsentrasie van Mo in plante is baie laer as vir die ander essensiële mikro- elemente. Dit is ’n noodsaaklike onderdeel van nitraatreduktase en nitrogenase en dus noodsaaklik vir vrylewende en simbiotiese N-binding, asook die eerste stap in die N-metabolisme van plante waar N in nitraatvorm opgeneem word. Tekorte word gekenmerk deur ligte groen kleure soos by ’n N-gebrek, en by meer akute tekorte vorm bladrandskroei, waarskynlik weens akkumulasie van nitraat in die weefsel, wat egter, in teenstelling met braksimptome, soepel bly. Die nekrose brei uit totdat die hele blaar nekroties is, met slegs die sinusgedeelte wat ongewoon groen bly. Molibdeentekorte by wingerd is nog nie in Suid-Afrika geïdentifiseer nie, alhoewel daar in potproewe met wingerdgrond waarop S-tekorte geïdentifiseer is, wel ’n reaksie op Mo-toevoeging was, maar slegs in kombinasie met S. ’n Riglyn vir molibdeentekorte is < 0.09 mg kg –1 (< 90 µg kg –1 ) in blare, gemeet by piek-blomtyd. Molibdeen kan toegedien word as blaarbespuiting met ’n Na-molibdaatoplossing van 0.05% of deur ’n grondtoediening van 150 g ha –1 Na-molibdaat in oplossing, wat eweredig oor die hele grondoppervlak gespuit word. Chloor (Cl) Daar is eers teen die middel van die twintigste eeu onbetwisbaar aanvaar dat Cl in klein hoeveelhede essensieel vir plantvoeding is, deurdat dit betrokke is by fotosintese, osmotiese regulering en siekte-onderdrukking. Tekortsimptome varieer baie tussen plantsoorte, maar vertoon meestal verlepsimptome, wat mag oorgaan na die ontwikkeling van brons kleure, bakkievormige blare en spikkels op en nekrose van blare, met verpotte, kort en baie vertakte wortels. Plante neem Cl op as die anioon chloried (Cl – ) uit die grondoplossing, waar dit algemeen met Na en K geassosieer is as ’n maklik oplosbare sout. Gewoonlik bevat plante meer Cl as die minimum vereiste en tekorte is nog nie vir wingerd gerapporteer nie. Geen bemestingstrategie is daarvoor in plek nie, maar dit mag wees dat gebrekkige Cl-voeding, soos in die geval van S, met verloop van tyd in hoë reënvalgebiede op sand- en hoogsverweerde gronde kan ontwikkel, deurdat dit deesdae slegs KCl is wat ’n Cl-draende bemestingstof is en Cl nie in kunsmismengsels voorkom nie. In kusgebiede word nie probleme met Cl-voeding voorsien nie, omdat tot meer as 100 kg Cl per ha –1 jr –1 deur seewinde na die land gedra kan word. Die Cl-inhoud van hoender- en Karoo-skaapmis is hoog, maar is meer van belang t.o.v. die potensiële brakgevaar daarvan as wat dit ’n bron van Cl-voeding is. Chloor word in die praktyk eerder met braktoestande geassosieer, waar dit, saam met Na, veroorsaak dat die wingerdstok teen hoë osmotiese potensiaal water moet opneem, maar ook ’n direkte toksiese effek kan hê. Die simptome van NaCl-skade is verbruining
BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF | 77
Made with FlippingBook - Online magazine maker