BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF
Daar is kommer dat die voortdurende gebruik van Cu-bevattende swambeheermiddels tot Cu-toksisiteite aanleiding kan gee, soos wel in sommige dele van Europa die geval is. Plaaslik is vir kwekerye, waar waarskynlik die meeste sodanige bespuitings plaasvind, deur Conradie (2004) gevind dat die Cu-inhoude van die gronde nie uitermate hoog is nie en dat Cu-inhoude van tot 50 mg kg –1 steeds nie betekenisvolle negatiewe effekte het nie. Koper word by grond-pH’s KCl van > 4.3 vasgelê, sodat toksisiteite eerste op suur, ligtetekstuurgronde verwag kan word, met bekalking van grond tot ’n optimum pH van 5.5 die klaarblyklike oplossing. Boor (B) Gesteentes verskil aansienlik in B-inhoud, met die bekendste B-bevattende minerale boraks en toermalyn. Boraks word veral in sedimentêre gesteentes en in soutpanne aangetref, en toermalyn in die Kaapse graniete. In die grond kom B geassosieerd met mikas, klei en veral seskwioksiede voor, terwyl die organiese fraksie ook betekenisvolle B-inhoude kan hê. Die presiese rol van B in plantweefsel is nog nie volledig bewys nie, maar die fisiologiese gevolge van ’n tekort is goed gedokumenteer. Boor speel ’n rol by selverdeling, die omsetting van suiker na stysel en die waterverhoudings van plante. ’n B-tekort gaan gepaard met uitswel van protoplasma, wat die bars van selle tot gevolg het. Dit is betrokke by die sintese van ouksien en verseker normale stuifmeelontwikkeling en -ontkieming. ’n B-gebrek veroorsaak gevolglik versteurde groei en verhoed kiembuisontwikkeling. Die grense van voldoende en gebrekkige voorsiening van B lê baie na aan mekaar. Boortekorte word algemeen op suur, sanderige gronde verwag. Boor word met warm water uit grond geëkstraheer en vir gronde met ’n pH KCl van tussen 5.0 en 6.5, behoort die B-inhoud minstens 0.3 mg kg –1 te beloop (sien Tabel 5 in Hoofstuk 3). Boortekortsimptome by wingerd is groeipunte wat abnormaal ontwikkel met kort, sigsag-internodiums, apikale blare met ’n waaieragtige voorkoms wat aan virusinfeksie of mytskade herinner en vergrote blaarsteelsinusse, gepaardgaande met tussennerfse chlorotiese vergeling – simptome wat sterk aan ’n Zn-gebrek herinner. Ouer blare toon oneweredige chlorotiese vlekke en algemene tussennerfse vergeling, met blaarrande wat met verdrag nekroties raak. Dit het voorts millerandage-trosse (klein, pitlose korrels) tot gevolg, met nekrotiese sones binne-in die korrels, gepaardgaande met ’n loodglans- voorkoms van die korrelskil. Ander simptome is nekrotiese kolle of ringe op rankies en trosstingels (Figuur 23).
74 | ONDERHOUDSBEMESTING
Made with FlippingBook - Online magazine maker