BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF

Sink (Zn) Plante neem sink as Zn 2+ op, maar dit kan ook as chelate opgeneem word deur die wortels, blare en bas van stokke. Dit is die metaalkomponent en aktiveerder van verskeie ensiemsisteme. Daar is gevind dat ’n verskeidenheid dehidrogenase-, anhidrase-, proteïenase- en peptidasesisteme van Zn afhanklik is. Dit is essensieel t.o.v. koolhidraat-, proteïen- en vetmetabolisme en speel ook ’n rol in die vorming van ouksiene. Sink kom in verskeie gesteentes en Zn-bevattende minerale voor. Deur verwering word Zn 2+ vrygestel, wat dan aan die grondkolloïdes geadsorbeer word en in ewewig met die grondoplossing-ione verkeer. Daar is egter geen verband tussen die totale Zn- inhoud van grond en die toeganklikheid daarvan vir plante nie. Die toeganklikheid van Zn neem af met toenemende grond-pH, oormatige fosfaattoedienings en ook weens ’n absolute tekort in sanderige grond weens uitloging. Daar is ook gevind dat op die hoogsverweerde, suur berghanggrond op graniet, Zn-tekorte soms voorkom. Sink word, soos Mn, m.b.v. EDTA uit grondmonsters geëkstraheer en vir gronde met ’n pH KCl van tussen 5.0 en 6.5, behoort die Zn-inhoud minstens 0.5 mg.kg –1 te beloop (sien Tabel 5 in Hoofstuk 3). Vir Zn-aanvulling in die grond, kan 15 kg ha –1 Zn-sulfaat in oplossing op die bankies of deur die besproeiingstelsel in bestaande wingerde en by nuwe aanplantings op die toekomstige stokrysone eweredig toegedien word. ’n Tekort aan Zn manifesteer as abnormale groei en ernstige effekte op trosontwikkeling. Tekortsimptome verskyn eerste op apikale blare as algemene tussennerfse chlorose, vergelykbaar met dié van Mn. Blare bly klein (bekend as kleinblaar-simptoom), die blaarsteelsinushoek vergroot en internodia is kort, wat tot ’n roset-voorkoms (bekend as heksebesem) aanleiding gee (Figuur 20). Korrels speen af en trosse is gevolglik strengelrig, met korrelgrootte wat varieer deurdat dit min of geen pitte bevat nie en ook neig om hard en groen te bly (Figuur 21). Sommige kultivars, soos o.a. die muskaattipes, is baie gevoelig vir Zn-tekorte en trosse kan geaffekteer word, alvorens blaarsimptome sigbaar is. Die norme vir die Zn-inhoude van wingerdblaarskywe en -stele verskyn in Tabel 24.

FIGUUR 20: Zn-tekort manifesteer eerste in die apikale blare (links), terwyl dit ook aanleiding gee tot kleiner blare, kort internodes (heksebesem) en vergrote bladsteelsinusse (regs) (Foto’s: P. Raath).

70 | ONDERHOUDSBEMESTING

Made with FlippingBook - Online magazine maker