BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF

Die primêre bronne van K in die grond is K-veldspate (ortoklaas, mikroklien), mikas (biotiet, muskoviet, vermikuliet) en mika-agtige kleie soos illiet. Gewoonlik toon die K-inhoud van grond ’n toename met diepte weens verwering in die bolae en inwassing na die dieper lae. In materiale met ’n lae K-inhoud is dit egter dikwels die A-horison wat die hoogste K-inhoud het weens katioonsirkulering en bemestingspraktyke. In Tabel 8 word getoon dat jaarliks sowat 96 kg K ha –1 benodig word vir ’n produksie van 30 ton ha –1 (3.2 kg K per ton). Die grootste gedeelte hiervan (62 kg) word deur die druiwe benodig (Tabel 9), en word dus permanent uit die wingerd verwyder. Omdat K maklik uit sanderige gronde loog, moet ’n wingerd se K-bemesting grootliks op grondtekstuur gebaseer word (Conradie, 1998). Op sanderige gronde (< 10% klei) moet jaarlikse onderhoudsbemesting op verwagte produksie gebaseer word, verdeel volgens die riglyne in Tabel 10, wat neerkom op 40% tussen bot en vrugset, 45% tussen vrugset en oes en 15% in die naoes-periode. Op sulke sanderige gronde met ’n K-inhoud van meer as 50 – 80 mg kg –1 , behoort die grond egter genoegsame K vir daardie seisoen te bevat, wat beteken dat onderhoudsbemesting vir daardie jaar onnodig is. Afhangende van die mineralogie, kan swaarder gronde dikwels natuurlik goed met K voorsien wees, terwyl daar ook min loging voorkom, indien K-bemesting volgens produksie toegedien word, sal oormatige K-vlakke in die grond opgebou word. Op sulke gronde (> 10% klei) moet grondontledings dus as ’n aanduiding van K-beskikbaarheid gebruik word, en die “voldoende” vlak, wat kan varieer tussen 90 en 120 mg kg –1 , sal deur die mineralogie van die streek bepaal word (Tabel 16). Indien ’n grond meer as 140 mg kg –1 K bevat, sal dit dus nooit nodig wees om K-bemesting toe te dien nie. By sub-optimale vlakke kan twee benaderings gevolg word, afhangende van die K-inhoud van die grond: 1: Indien die K-inhoud van die grond hoër is as 50 mg kg –1 , is ’n eenmalige K-toediening nodig om die K-inhoud van die grond te verhoog tot die vereiste vlak; 2: Vir gronde waar die K-inhoud laer is as 50 mg kg –1 , kan ’n eenmalige toediening aan die hand van verwagte produksie (3.2 kg K per ton) toegedien word, tesame met ’n addisionele 50% van dié hoeveelheid. Daarna moet grondontledings elke drie jaar gedoen word om K-vlakke te monitor. FIGUUR 10: Simptome van rolblaarvirus-infeksie (links) moet nie met kaliumtekortsimptome verwar word nie – die foto aan die regterkant toon die verskil tussen K-tekorte (bo) en rolblaarsimptome (onder) (Foto’s: P. Raath).

54 | ONDERHOUDSBEMESTING

Made with FlippingBook - Online magazine maker