BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF
Kalium (K) Kalium kan as die belangrikste metaalkatioon in die wingerdstok beskou word. Alhoewel dit nie deel van enige organiese verbinding uitmaak nie, speel dit ’n rol by verskeie metaboliese prosesse. Dit is van die beweeglikste elemente in die stok en is van belang by die regulering van osmotiese drukke en derhalwe die waterhuishouding van die stok. ’n Tekort aan K kan respirasie versnel en fotosintese beperk, sodat amiene soos putresien en agmatien, wat toksies is, akkumuleer en skroeisimptome op ouer blare veroorsaak, baie soortgelyk as ’n oormaat N-simptome (Figuur 7). Origens speel dit ook ’n rol in die vervoer en kondensasie van koolhidrate en is dus veral by wingerd van belang vir suiker-akkumulasie en korrelgrootte. Akute K-tekorte veroorsaak onvolledige rypwording van druiwe, met klein, strengelrige trosse en ongelyk rypwordende korrels. Daar word dus dikwels aanspraak gemaak op die belang van K in kleurontwikkeling, maar indien daar voldoende K-voeding is om tekortsimptome te voorkom, is dit onwaarskynlik dat addisionele K ’n positiewe bydrae tot kleur en kwaliteit sal maak. Inteendeel, K-oorbemesting kan lei tot kwaliteitsprobleme soos swakker kleurontwikkeling (Morris et al ., 1982; Mpelasoka et al ., 2003) en verhoogde voorkoms van vrot (Raath, 2012). Oorvoorsiening van K kan ook tekorte van ander elemente induseer, soos Ca (Conradie, 2001) en Mg (Raath, 2012). Dit is dus belangrik om K in die korrekte hoeveelhede toe te dien.
FIGUUR 7: Diffuse verkleuring van blaarrande van ouer blare (links) en latere nekrose weens K-tekort (regs) (Foto’s: D. Saayman).
Kaliumtekorte kan geredelik deur blaarsimptome geïdentifiseer word. Dit is ’n diffuse chlorose op die rande van basale blare, wat in erge gevalle nekroties raak en sterk aan brakbeskadiging herinner (Figuur 8). Die blare krul ook na bo of onder. In gevalle van sluimerende tekorte kan vanaf deurslaan verbruining of perswording van die oppervlak van blare plaasvind, wat tot ’n oppervlakkige nekrose kan oorgaan, die sg. Swartblaarsimptoom ( black leaf symptom ).
52 | ONDERHOUDSBEMESTING
Made with FlippingBook - Online magazine maker