BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF
HOOFSTUK 5
Bemesting volgens groeikrag Vanuit die voorafgaande is dit duidelik dat ’n wingerd se N-voedingstatus en groei nie slegs deur die organiese materiaalinhoud van die grond bepaal word nie, omdat ander faktore, soos grondeienskappe, besproeiingsbestuur, bostok/onderstok-kombinasie en klimaat, ook ’n rol kan speel. Vegetatiewe groei word dus as die betroubaarste aanduiding van wingerd se N-voedingstatus beskou, omdat dit al die bogenoemde faktore reflekteer. Indien stokke nie voldoende groeikrag toon nie, moet die probleem geïdentifiseer word, aangesien dit dikwels nie aan N-onderbemesting toegeskryf kan word nie, maar aan ander faktore soos grond-fisiese beperkings, onder-besproeiing, nematodes, brak of grondsuurheid. Die norme wat gebruik word om groeikrag te evalueer, tesame met die toepaslike bemestingsriglyne word in Tabel 12 aangetoon. Vir wingerde wat swak groei, word N-bemesting aan die hand van die seisoenale aanvraag (Tabel 8) in ’n mimimum van drie paaiemente toegedien, nl. sowat drie weke na bot, kort voor blom en/of op ertjiekorrelstadium en laastens weer net na oes. Vir wingerde wat ideaal groei, kan grootliks weggedoen word met die N-toediening teen vrugset, indien die volle lower reeds tydens blom gevestig is en daar steeds aktiewe groei voorkom. Vir wingerde wat geiler groei, kan ook weggedoen word met die toediening na bot. Naoesbemesting sal slegs weggelaat word vir wingerde wat heeltemaal oorgeil is.
BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF | 47
Made with FlippingBook - Online magazine maker