BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF
HOOFSTUK 5
nitrifikasie genoem en behels beide stappe b en c, met b ’n vinnige proses wat deur gespesialiseerde, outotrofiese Nitrosomonas -bakterieë uitgevoer word en c ’n baie vinnige proses wat ook deur gespesialiseerde, outotrofiese bakterieë, Nitrobacter , deurgevoer word. In goed deurlugte gronde is NO 3 – -ione normaalweg die prominentste vir plantvoeding, maar in hoë konsentrasies kan dit ook toksies wees (vergelyk o.a. die groeistilstandverskynsel). BEMESTINGSPROGRAM VIR STIKSTOF Bemestingstye Bot tot vrugset : Soos reeds aangedui (Tabel 10) word 25% van die jaarlikse N-behoefte tussen bot en vrugset vanuit die grond opgeneem. Met die aanvang van hierdie periode is die N-aanvraag van die nuwe groei (blare, lote en trosse) egter veel hoër as die hoeveelheid N wat uit die grond opgeneem word, wat beteken dat ’n groot hoeveelheid van die N wat benodig word deur remobilisasie vanaf die permanente struktuur (wortels, meerjarige hout) verkry word. Indien daar nie genoegsame reserwes in die naoes-periode opgebou is nie, sal die “tekorte” nie gedurende die eerste drie tot vier weke na bot deur middel van oormatige toedienings reggestel kan word nie. In die praktyk word egter gepoog om die volle blaredak reeds teen die einde van hierdie groeifase gevestig te hê, wat beteken dat vinnige aktiewe groei ’n vereiste is. Deur dus van drie tot vier weke na bot meer as die natuurlike opnamehoeveelheid N toe te dien, word die verlangde groei gestimuleer. Tot 40% van die totale jaarlikse N-behoefte kan dus gedurende hierdie periode toegedien word op wingerde wat nie oorgeil is nie, in plaas van slegs die 25% wat natuurlikerwys opgeneem sal word. Vrugset tot deurslaan: Ongeveer 41% (Tabel 10) van die stok se jaarlikse behoefte word tussen vrugset en oes opgeneem. Vir wingerde waar aktiewe lootgroei voor deurslaan tot stilstand gekom het, word feitlik al dié N voor deurslaan opgeneem, waarna N-opname tydelik tot stilstand kom (Conradie, 1980). By wingerde wat geiler groei, kan slegs 30% van die jaarlikse behoefte tussen vrugset en deurslaan opgeneem word, gevolg deur 11% tussen deurslaan en oes (Conradie, 1986). By sulke geil-groeiende wingerde tree die blare steeds as ’n aanvraagpunt vir N op, wat kan lei tot vertraagde rypwording en gebrekkige kleurontwikkeling. Om dus te verhoed dat wingerd aanhou groei en N opneem na deurslaan, word aanbeveel dat die totale hoeveelheid wat gedurende hierdie periode toegedien word, na 25% van die jaarlikse toediening verminder word, en dat dit kort na set toegedien word. Sodoende word verhoed dat wingerde aanhou groei tot na deurslaan, of dat trosse tydens rypwording oorvoorsien is met N, en dus meer vatbaar is vir vrot. Evaluasie van vegetatiewe groei is egter uiters belangrik gedurende hierdie periode en weens ondergemiddelde groei, kan ’n addisionele N-toediening (van ongeveer 15 kg N ha –1 ) by 10 mm-korrelgrootte gemaak word. Deurslaan tot oes: Vir wingerde wat gemiddeld tot geil groei, moet geen bemesting na deurslaan toegedien word nie, terwyl hoogstens 10 – 11% van die jaarlikse behoefte vir wingerde met ondergemiddelde of swak groeikrag toegedien kan word. Oormatige
BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF | 43
Made with FlippingBook - Online magazine maker