BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF

Die jaarlikse element-opname gedurende die naoes-periode kan wissel van 15% (K en Mg) tot 34% (N). Die meeste van die voedingselemente wat tydens dié periode opgeneem word, word in die permanente dele gestoor, terwyl daar ook translokasie vanaf die blare en lote na permanente dele mag plaasvind. Voedingselemente wat na oes opgeneem word, speel ’n essensiële rol met die aanvang van die volgende groeiseisoen, wat dui op die belang van naoes-bemesting. Vir die verkryging van optimum druifkwaliteit, moet sinvolle bemestingspraktyke hierdie opname-patrone in ag neem, omdat beide oor- en onderbemesting negatiewe effekte kan hê. MAKRO-E LEMENTE Stikstof (N) Die rol van N is eers teen die begin van die 19de eeu vasgestel. Dit is die basiese element vir selvermeerdering en die ontwikkeling van vegetatiewe organe, deurdat dit deel uitmaak van proteïne, nukleïensure, ouksiene en chlorofil. Die planthormoon ouksien inhibeer lengtegroei maar stimuleer vertakking en daar is ’n direkte verband tussen N-voorsiening en ouksienproduksie. Gevolglik het N-voeding dikker en meer vertakte wortelgroei tot gevolg, terwyl wortels in ’n N-arme medium, soos bleek sande, lank, dun en min vertak is. Stikstof word ook in die vorm van alkaloïedkorrels in selle as reserwes gestoor. Stikstof is meer dikwels as enige van die ander essensiële elemente die groeibeperkende voedingstof, wat beteken dat stikstof ’n positiewe effek op groei het, maar maksimum vrugopbrengs word by ’n laer N-voedingspeil verkry as waarby maksimum vegetatiewe groei verkry word. By suboptimale N-voorsiening word ogies eerste deur lae N-voedingsvlakke benadeel, met ’n gevolglike swak drag gedurende die volgende seisoen. Oormatige toedienings kan egter lei tot rouband ( water berry, grape stem necrosis / pallo negro, dessèchement de la rafle ) en ’n afname in koolhidraatinhoude. Koolhidrate wat uit fotosintese verkry word, word dan gebruik vir die vervaardiging van protoplasma en is gevolglik nie beskikbaar vir akkumulasie nie, soos suiker in die geval van druiwe, wat tot ’n vertraging van rypwording lei. By hoë N-voorsiening neig selle weer om groter te wees, wat ’n negatiewe uitwerking op houvermoë en siektebestandheid kan hê. ’n Indirekte gevolg is dat groter blare en langer lote kan lei tot lowerverdigting en dus gunstige toestande vir siektes (veral Botrytis-vrot) kan aanhelp, asook verminderde sonligpenetrasie, met negatiewe gevolge op veral kleur, maar ook algemene kwaliteit. Lae koolhidraatreserwes en groot selle kan verder bydra tot die rypgevoeligheid van wingerd. Stikstof word as ’n mobiele element beskou, wat beteken dat N-verbindings in ouer blare, wat nie meer so aktief funksioneer nie, hidroliseer en die fragmente (waarskynlik aminosure) na die jonger plantdele getranslokeer word. Tekortsimptome, nl. algemene vergeling, is gevolglik hoofsaaklik op die ouer blare aanwesig (Figuur 2). Dit verskyn egter eers as daar soms reeds ’n negatiewe impak op drag is, sodat daar nie op die verskyning daarvan gewag kan word voor tussenbeide getree word nie. Oormatige N-voeding het tot gevolg dat blare vinnig vergroot en ’n tydelike K-tekort daardeur geïnduseer word (die

40 | ONDERHOUDSBEMESTING

Made with FlippingBook - Online magazine maker