BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF

HOOFSTUK 3

’n Vereenvoudigde benadering word meestal deur laboratoriums gevolg wat die tafeldruifbedryf dien, naamlik, ’n sitroensuur-, Bray I-, Bray II- of Mehlich III-ekstraksie word uitgevoer wanneer die grond-pH KCl < 7.0 is, terwyl die bogenoemde norme gebruik word (Tabel 1). Vir gronde met ’n pH KCl ≥ 7.0, word ’n Olsen-ekstraksie egter dikwels gedoen, en die norme in Tabel 1 steeds gebruik. Die logika is dat ’n Olsen- ekstraksie minder aggressief is en ’n hoër pH het, wat teoreties die laer tempo van P-vrystelling in die wortelsone by hoër grond-pH-toestande weerspieël. Met die Olsen-ekstraksietegniek is egter al bewys dat daar by gronde met hoë P-konsentrasies tot so min as 5 – 7% van die sitroensuur-ekstraheerbare P geëkstraheer word. In werklikheid beteken dit dat die totale P in die grond oormatig hoog kan word (bv. indien geëkstraheer met Bray I of Bray II), terwyl die Olsen-P onder die norm bly. Daar word daarom aanbeveel dat Bray I-ekstraksies gedoen word op gronde met pH KCl > 7.0, en die Bray I-norme in Tabel 1 gebruik word om P-behoeftes te bereken. As ’n analise gedoen word met behulp van een van die ander ekstraheermiddels, kan die norme in Tabel 1 verskaf, met redelike betroubaarheid gebruik word, maar die gebruik van Olsen- ekstraksies moet verkieslik vermy word. Afhangend van die klei-inhoud van die grond, moet die P-inhoud vermeerder word tot die spesifieke norm, soos in Tabel 1 aangetoon. Vir grondvoorbereiding word die gemiddelde P-inhoud bepaal tot ’n gronddiepte van 600 mm. Om die P-inhoud met 1 mg kg –1 vir 300 mm-diepte te verhoog, behoort 4.5 kg P toegedien te word; dus 9 kg per ha vir 600 mm-diepte. Op hoë pH-gronde (pH KCl > 7) kan dit ’n opsie wees om die aanbevole syfer afwaarts aan te pas en die jaarlikse onderhoudsbemestingvolumes te verhoog. Vir produksiewingerde word die P-inhoud bereken tot ’n gronddiepte van slegs 300 mm, bv. 4.5 kg P per ha moet toegedien word vir elke 1 mg.kg –1 waarmee die konsentrasie verhoog moet word. In die geval van hoë-pH-gronde, waar P maklik vasgelê word, moet die jaarlikse bemestingsvereiste oor drie paaiemente bereken en regdeur die seisoen versprei word. Tydens die oes word 0.7 kg P verwyder vir elke ton druiwe geproduseer en onderhoudsbemesting moet dus ooreenkomstig bereken word, behalwe waar grondanalises aandui dat die P-inhoud optimaal of bokant die norm is. Dit is belangrik om nie oormatige hoeveelhede P toe te dien nie, aangesien dit kaliumopname kan beperk (Conradie & Saayman, 1989). ’n Fosforinhoud van meer as 50 mg.kg –1 in sanderige gronde, 60 mg.kg –1 in lemerige gronde en 70 mg.kg –1 in kleierige gronde, kan by enige grond-pH problematies wees. Die klip- en gruisvolume moet dus altyd gebruik word in die berekening van die P-behoefte, om oorbemesting van P te voorkom. KALI UM Wat wingerd se kaliumvoeding betref, speel grondtekstuur ook ’n belangrike rol in die interpretasie van grondanalises. Eerstens word kalium (K) baie vinnig uit sanderige grond geloog, en tweedens kan kleiminerale ’n belangrike rol in K-binding speel. Daar word nie aanbeveel dat K tydens grondvoorbereiding op sanderige gronde toegedien word nie – uitloging kan maklik op sulke gronde plaasvind. ’n Breë

BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF | 23

Made with FlippingBook - Online magazine maker