BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF
verteenwoordigende monsters vir elke bestuurseenheid te verkry. Die diepte/dikte van die verskillende horisonte/lae, asook die beraamde growwe fragmente moet aangeteken word. Vir grondvoorbereiding vir wingerde is dit wenslik om monsters apart te versamel vanuit die bo- en ondergrond. Dit is dikwels ook wenslik om monsters van onderliggende kleimateriaal apart te neem, aangesien soute opwaarts kan beweeg na die oorliggende grondlae tydens droë periodes. Die diepte van monsterneming moet aangedui word. ’n Monster van 1 kg is voldoende. Bestaande wingerde Die eerste monsterneming behoort kort na voorbereiding gedoen te word om te bepaal of optimale toestande tydens die voorbereiding geskep is. Dit geskied per bestuurseenheid. Om te verseker dat die monsters verteenwoordigend van die eenheid is, word dit saamgestel uit submonsters wat uit verskillende plekke in die eenheid geneem is. As die grond opgeërd is, moet die monsters slegs van die operdwal geneem word. Vir onderhoudsbemestingdoeleindes moet grondmonsters ten minste elke drie jaar geneem word. In blokke met baie sanderige of klipperige grond, waar loging ernstige afmetings kan aanneem, moet monsters egter elke twee jaar geneem word. Dit word op die wingerdry geneem. Aangesien grondsamestelling drasties kan wissel oor kort afstande, kan langtermynneigings die effektiefste bepaal word as monsters op min of meer dieselfde plekke geneem word. Wingerdstokke moet vir hierdie doeleindes gemerk word. Waar swak kolle in die wingerd voorkom, moet aparte monsters geneem word. Verbouingsaksies sal dikwels die oorgang tussen grondlae versteur; gevolglik moet monsters op vasgestelde dieptes, wat altyd dieselfde is, geneem word, sodat ’n geskiedenis van resultate opgebou kan word. Laasgenoemde kan dan gekorreleer word met bemestingstoedienings. Indien die persoon wat die aanbevelings doen, nie rekords van vorige analises het nie, moet monsterneming op meer as een laag geskied. Dit is algemeen dat kalk- en fosfaatbemesting nie dadelik volkome reageer nie; daarom is dit verkieslik dat monsters op dieptes van 0 – 150 mm en 150 – 450/500 mm geneem word. In ag genome dat min wortels dieper as dit aangetref word, is dieper monsters onnodig. As die grond vlakker is as 450 – 500 mm, moet monsterneming beperk word tot bokant die beperkende laag, omdat onderliggende klei wat by die monster ingesluit word, die resultate nutteloos kan maak. Klipperige grond Indien die grond baie klipperig is en die klippe so groot is dat daar nie monsters van geneem kan word nie, moet ’n skatting van die voorkoms van klippe gemaak word; d.w.s. die volume wat deur klippe in beslag geneem word, moet aangedui word. Hierdie inligting kan ’n beduidende effek hê op die kunsmisaanbeveling en moet die grondmonsters na die laboratorium vergesel. ’n Klipregstelling word gebruik in die bepaling van gips-, kalk-, kalium- en fosfaatbemestingsbehoefte.
14 | NEEM VAN GROND- EN BLAAR- MONSTERS
Made with FlippingBook - Online magazine maker