BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF

van sowat 10 kg P ha –1 gevolg word, wat gerieflikheidshalwe eenmalig aan die einde van die seisoen (Februarie – Maart) breedwerpig toegedien kan word, sodat dit ook deur die dekgewas benut en na dieper grondlae vervoer kan word. Kaliumbemesting word benodig indien die K-inhoud van die grond < 80 mg kg –1 is of minder as 4% van die KUK van die grond uitmaak. Dit kan, soos P, eenmalig of met diep plasing reggestel word in gronde met meer as 10% klei. Kalium word in verhouding tot P deur onderstokke teen dieselfde hoeveelhede as vir bostokke opgeneem en as alternatief kan ’n seisoenale riglynhoeveelheid-K van sowat 45 kg ha –1 toegedien word, veral in sanderige grond. Hierdie hoeveelheid K kan saam met N in 3 – 5 paaiemente oor die seisoen toegedien word. Opname van Ca deur onderstokke is verhoudingsgewys aansienlik hoër as by bostokke, maar geen Ca-bemesting word aanbeveel, indien die grond pH KCl 5.5 of hoër is nie. Waar dit nie die geval is nie, behoort ’n eenmalige toediening van sowat 1 ton ha –1 gips in die Ca-behoeftes van onderstokke te voorsien, wat dan ook as ’n bron van swawel (S) sal dien. Dit word gerade geag dat daar periodiek ook grondontledings vir die S-inhoud van die grond gedoen word. Magnesium word ook verhoudingsgewys tot bostokke meer deur onderstokke opgeneem. Geen spesifieke Mg-grondnorme of -bemesting word egter voorgestel nie, aangesien ’n Mg-tekort geredelik deur baie kenmerkende blaarsimptome gemanifesteer word, alvorens stokprestasie benadeel word. Daar kan dus betyds tussenbeide getree word met Mg-sulfaattoedienings indien sodanige simptome wel waargeneem word. KWEKERYE Min proefondervindelike resultate t.o.v. wingerdkwekerybemesting is plaaslik en internasionaal beskikbaar en daar is in die verlede grootliks op praktykinligting as riglyne staatgemaak. Daar is egter nie ’n goeie korrelasie tussen kwekerysukses en bemesting volgens hierdie benadering nie. In Wellington is aanduidings verkry dat die toename in droë materiaal van stokkies in ’n kwekery vergelykbaar is met lootproduksies in onderstokmoederblokke. Met dit as uitgangspunt kan kwekerybemesting soortgelyk aan dié van onderstokke wees, maar teen hoër hoeveelhede weens die intense besproeiing en gepaardgaande uitloging wat in kwekerye die geval is. Seisoenale riglynhoeveelhede N, P en K word in Tabel 32 aangebied. In die geval van vaste misstowwe, word KAN as N-draer verkies, omdat dit kalk bevat wat as bron van Ca dien, asook enkelsuperfosfaat as P-draer omdat dit gips bevat wat as bron van beide Ca en S dien. KCl word as K-draer verkies, omdat Cl ook ’n essensiële voedingselement is en teen die hoeveelhede wat dit toegedien word, nie skadelik is nie. Die verhoudings van die elemente kan gebruik word by die samestelling van vloeibare kunsmis, waar hoeveelhede met sowat 15% verminder kan word weens verwagte groter doeltreffendheid.

106 | BEMESTING VAN ONDERSTOKMOEDERBLOKKE EN KWEKERYE

Made with FlippingBook - Online magazine maker