’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD
BAKTERIESE SIEKTES Vlamsiekte 3.1
V lamsiekte kom in feitlik al die verbouingsgebiede van Wes-Kaapland voor en kan – afhangend van klimaatstoestande – vernietigende uitwerkings op stokke met gepaardgaande oesverliese teweegbring. Alhoewel die aanslag daarvan op vatbare kultivars sedert ongeveer 1936 drasties afgeneem het, bly dit van belang om op hoogte van karakteristieke kenmerke hiervan te bly – veral in jare waartydens die aanvang van die groeiseisoen met uitsonderlike nat klimaatstoestande gepaard gaan. Volgens die literatuur oorleef die bakterieë tydens die winter in die sap van reeds geïnfekteerde stokke om tydens bot saam met die sapstroom na nuutontwikkelde lote getranslokeer te word. Hieropvolgend speel reën of besproeiing ’n belangrike rol in die verspreiding daarvan na naburige lote, blare en trosse – in welke geval binnedringing van materiaal deur wonde (hoe klein ook al) geskied. Uiteraard sal die vermoë van bakterieë om in die sapstroom te oorleef/beweeg tot besmetting van snoeiskêre tydens wintersnoei kan bydra om sodoende weer na naburige stokke oorgedra te word. Sou sodanige geïnfekteerde materiaal aldus vir enting aangewend word, word ideale omstandighede vir verspreiding deur kwekerymateriaal daargestel. Hoewel vlamsiekte met karakteristieke, visueel waarneembare kenmerke geassosieer word, kan die uitdrukking daarvan soms verwarrend en van ’n wisselende intensiteit wees. Derhalwe is dit ook hier van belang dat deskundige advies in terme van korrekte identifikasie onverwyld ingewin word, ten einde toepaslike voorkomingsmaatreëls so spoedig doenlik te implementeer. Tiperend van vlamsiekte is vertraagde bot wat deur die ontwikkeling van kortlittige lote opgevolg word (Foto 141). In gevalle waar die siekte reeds ’n gevorderde mate van verspreiding in die hout openbaar mag óf geen uitbot voorkom nie óf waar dit wel plaasgevind het tot die spoedige afsterwing van verdwergde lootjies aanleiding gee (Foto’s 142 & 143). Uiteraard sal/kan sodanige situasie(s) tot geleidelike terugsterwing en uiteindelike afsterwing van stokke bydra. Op jong lote is die voorkoms van lensvormige, verlengende barsies, wat mettertyd tot die ontwikkeling van nekrotiese krake en kankers oor heel loothelftes aansporing gee, baie kenmerkend van vlamsiekte (Foto’s 144, 145, 146 & 147). Soortgelyke nekrotiese krake kom ook op trosstele en -vertakkings voor, in welke geval verdroging/afsterwing van trosse – selfs op baie vroeë stadia – in aanvang tree (Foto’s 148, 149 & 150). Blare kan óf direk deur huidmondjies geïnfekteer word (wat tot die voorkoms van hoekige bruin vlekkies aanleiding gee) óf vanaf geïnfekteerde lote. Baie kenmerkend in laasgenoemde geval is die verdroging van heel of gedeeltes van blare vanaf die rande en waar gevolglike nekrotiese weefsel helderbruin vertoon terwyl dit deur ’n geel rand (witdruifkultivars) en ’n rooi rand (rooidruifkultivars) van normale groen gedeeltes geskei word (Foto’s 151, 152 & 153). Hierdie vlamkleurige blaarverkleurings het die gepaste benaming van vlamsiekte aan die siekte verleen.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 95
Made with FlippingBook Ebook Creator