’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD

DEEL 3

BAKTERIESE SIEKTES 3

O p grond daarvan dat druifkultivars – soos ook die geval betreffende swamsiektes – onderlinge verskille ten opsigte van vatbaarheid/ weerstandbiedendheid teenoor belangrike bakteriese siektes openbaar (Perold, 1926; Du Plessis, 1947; Matthee et al., 1970; Marais, 1981), moet die kardinale rol wat vogtigheid en temperatuur as klimaatsparameters in die voorkoms daarvan speel, ook hier in deeglike oënskou geneem word. Benewens kultivar en streekskeuses, is besluite oor hellings, liggings, stokspasiëring, prieel en besproeiingstelsels asook lowerbestuurspraktyke eweneens van groot belang – soos voortspruitend uit die positiewe impak op die toetrede en verspreiding van bakteriese siektes binne wingerde, as resulterend van praktyke wat daartoe bydraend kan/mag wees. In ooreenstemming met swamsiektes, sal abnormaliteite hieraan verbonde ook in die meeste gevalle weerspieëlend wees van lokale skade aan betrokke organe, met bykans in alle gevalle spesifiek waarneembare letsels aan orgaanoppervlaktes. Sou bakteriese siektes aldus sodanig voorkom dat die visuele indruk daarvan met spesifieke abnormaliteite geassosieer kan word, is ernstige/blywende skade reeds aangerig – ’n situasie wat vererger word deur die onvermoë van strategieë/middels om bakterieë in gevestigde materiaal (soos by vlamsiekte) of in die grond (soos by kroongal) te vernietig. Dit spreek vanself dat alle beheerpraktyke (hetsy chemies of biologies) op ’n deurlopend voorkomende basis behoort te fokus en dat die benutting van gesertifiseerde voortplantingsmateriaal met vestiging te alle tye as van die hoogste prioriteit ter bekamping van verspreiding van hierdie siektes beskou behoort te word.

94 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika

Made with FlippingBook Ebook Creator