’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD
abnormaliteite van die vaatweefsel (verbruining, verrotting en verstopping) geassosieer. Uiteraard sal sodanige situasies tot ernstige belemmering/stopsetting van normale sapvloei aanleiding kon gee, om sodoende tot die werklike impak van hierdie siektes – veral wanneer stokke boonop nog onder strestoestande sou verkeer – by te dra (Foto’s 132, 133, 134, 135, 136 & 137). Phytium en Sclerotium-wortelverrotting/afsterwing/ terugsterwing Wortelverrotting verbonde aan Phytium en Sclerotium is hoofsaaklik problematies in kwekerye of op jong stokke tot ’n ouderdom van vyf jaar. Aangesien verrotting van veral fyner wortels in beide gevalle op die spel is, sou verwag kan word dat sodanige situasies ’n betekenisvolle bydrae tot die terug of afsterwing van stokke kon ontketen – om as sulks met die stamsiektekompleks geassosieer te word. Alhoewel karakteristieke abnormaliteite soos verbonde aan hierdie wortelverrottingsiektes in ryklik geïllustreerde bydraes uiteengesit word (Marais, 1981; Ferreira & Venter, 1996), bly dit feitlik onmoontlik om algemene terugsterwingsverskynsels aan spesifiek Phytium óf Sclerotium toe te dig. Derhalwe word ook hier ten sterkste aanbeveel dat sodanige plantmateriaal aan diagnostiese ondersoeke by siekteklinieke onderwerp word ten einde akkurate en spesifieke oorsake aan die lig te bring. Streepvlek-terugsterwing/afsterwing/verrotting Wanneer klimaatstoestande tot laat in die seisoen vir streepvlekinfeksie bevorderlik is, kan lote erg aangetas en aan verdwerging/terugsterwing blootgestel word, met gepaardgaande doding van oë en selfs lote – vandaar die Engelse benaming “deadarm”. By gevoelige kultivars kan bogenoemde situasies daartoe lei dat spesifieke draers – op ’n oënskynlike gesonde kordon – stelselmatig aan draeropbou met gepaardgaande terug en uiteindelike afsterwing as gevolg van houtverrotting onderwerp word (Foto’s 138 & 139). Stadige terugsterwing/verdwerging Stadige terugsterwing of verdwerging by sekere stokke in normaal presterende wingerde is as sulks gewoonlik kenmerkend waarneembaar (Foto 140). Waar karakteristieke kenmerke soos verbonde aan spesifieke abnormaliteite egter ontbreek, is akkurate identifikasie van werklike oorsake dikwels problematies en kan tot verwarring en moontlike mistasting aanleidend wees. Ter illustrasie hiervan kan vermeld word dat hoewel terugsterwing by bostaande situasie (op grond van visueel waarneembare gedragspatrone van stokke) met moontlike Phytophthoraprobleme vereenselwig kan word, is vaatweefselverstopping – as verbandhoudend met Petri se siekte – as die werklike oorsaak met behulp van diagnostiese ondersoeke aan die lig gebring.
82 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Made with FlippingBook Ebook Creator