’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD

SWAMSIEKTES Swamsiektes geassosieerd met hout- en wortelverrotting/afsterwing 2.7.2

Esca-afsterwing/terugsterwing Esca – waarvan die voorkoms met die betrokkenheid van verskeie swamme binne die stamsiektekompleks geassosieer word – kom in al die verbouingsgebiede by veral ouer wingerde voor. Alhoewel karakteristieke kenmerke van geïnfekteerde stokke nie noodwendig elke jaar visueel waarneembaar is nie, gaan inwendige verrotting ná aanvanklike infeksie onverpoos voort om uiteindelik tot skielike (beroerte) of meer geleidelike (apopleksie) afsterwing van stokke in geheel of gedeeltelik uiting te vind (Foto’s 119, 120, 121, 122 & 123). By stokke wat voorheen nog normaal gegroei het, word die eerste visuele waarnemings van apopleksie deur karakteristieke verkleuringspatrone op onderste blare gekenmerk, in welke geval oneweredige geel (witdruifkultivars) en rooi (rooidruifkultivars) kolle wat later ineenvloei, tussen hoofnerwe ontwikkel. Hieropvolgend verkleur hierdie gedeeltes na rooibruin om tot die voorkoms van tipiese vingeragtige, dooie bruin weefsel by blare wat uiteindelik ’n verskeurde voorkoms openbaar, aanleiding te gee (Foto 124). Uiteraard kom hierdie blaarverkleuringspatroon nie by beroerte voor nie en word ondervind dat lote met blare vanaf die punte verlep om deur skielike verdroging en afsterwing gevolg te word. Kenmerkend van die esca/apopleksie/beroertekompleks is die voorkoms van swart spikkels (masels) op ontwikkelende korrels (Foto 125). Sodanige korrels, wat by witdruifkultivars ’n perserige voorkoms openbaar, verwelk en verdroog later en neem ’n rosynvoorkoms aan (Foto 126). By geïnfekteerde stokke in hierdie kategorie kom sagtehoutverrotting dikwels naby die grondoppervlakte voor (Foto’s 127 & 128). Inwendig vertoon verrotte gedeeltes gelerig tot witgeel verkleurings van sagte gedeeltes in die hout (Foto 129). Uiteraard kan interne verrotting verbandhoudend met esca verskillende patrone aanneem (Foto’s 130 & 131) en derhalwe word die inwin van deskundige advies vir akkurate identifikasieprosedures deurlopend aanbeveel. Petri se siekte en swartvoet-afsterwing/terugsterwing/ verrotting Alhoewel terugsterwing/verrotting geassosieerd met Petri se siekte (‘black goo’) en swartvoet (‘black foot’) by kwekerystokke sowel as by ouer stokke kan voorkom, is dit veral by jonger stokke – meestal tydens die aanvangsjare ná vestiging – waar spesifieke gedragspatrone voortspruitend uit genoemde situasies aan die orde gestel word. Beide hierdie verskynsels word met die stamsiektekompleks in verband gebring, in welke geval aanvanklike infeksies ’n noue verwantskap met verwonding van materiaal – waarvan die aanbring daarvan reeds vanaf voortplanting en enting onvermydelik is – openbaar. Visueel waarneembare kenmerke van Petri se siekte en swartvoet – soos verteenwoordig word deur vertraagde of geen bot, vergeling van lower, verdwergde lootgroei en algehele terugsterwing – word hoofsaaklik met

’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 81

Made with FlippingBook Ebook Creator