’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD
Uitgesonderd die moontlike inkorporering van individue in parsbakke tydens meganiese oes, kan geen bykomende nadele soos verbonde aan die voorkoms van verkleurmannetjies, gestipuleer word nie (Foto 522). In die geval van naaldekokers (Foto 523) word loofdrade soms as rusplek benut – sonder dat enige skade aan stokke aangerig word. Alhoewel perdebye oor geen nadelige eienskappe in terme van algemene verbouingspraktyke beskik nie, kan dit tot groot frustasie by wingerdwerkers aanleiding gee, veral wanneer neste versteur en steekaanvalle geloods sou word (Foto 524). Soortgelyke neigings sou ook op heuningbye – wat soms in saamgekoekte formaat op trosse, waar edelvrot tydens droë herfstoestande tot individuele korrels sou toetree – van toepassing kon wees (Foto 525). Desnieteenstaande dat spinnekoppe soms grillerig mag vertoon, kan die toetredes daarvan as voor, sowel as nadelig beskou word – soos deur die verorbering van motte/insekte by eersgenoemde en die moontlikheid by laasgenoemde om as ‘materiaal anders as druiwe’ gepars te word, weerspieël word (Foto’s 526 & 527). Benewens bewese skadelike larwes/ ruspers, word vreemde/onbekende voorbeelde dikwels op ’n sporadiese basis by stokke waargeneem (Foto’s 528 & 529) – in welke geval deskundige advies te alle tye ingewin behoort te word ter bevestiging van moontlike nadelige ingrepe soos hieraan verbonde mag wees. Alhoewel die voorkoms van voëlneste (soms met kleintjies) as ’n alombekende verskynsel beskou word, hou dit – uitgesonderd die moontlike inkorporering daarvan in parsbakke – geen werklike nadele in nie (Foto 530). In teenstelling met vreetskade soos onder andere deur tarentale by druiftrosse aangerig kan word, openbaar dikkopkiewiete geen aptyt vir druiwe nie, ten spyte daarvan dat die jaarlikse uitbroei van kuikens dikwels in die skaduwee van opgeleide stokke by afsonderlike wingerdrye geskied, waarná die betrokke persele spoedig verlaat word (Foto 531). Soos gerugsteun deur die voordele in terme van witluisbeheer soos aan die voedingsaktiwiteite van skilpadkewers toegeskryf kan word, word die voorkoms daarvan ten sterkste aangemoedig (Foto 532). Bykomend tot situasies soos verbandhoudend met spesifieke voorbeelde soos in die voorafgaande paragraaf uiteengesit, kan verskeie verdere voorbeelde by stokke opsigself aan die orde gebring word – om onderskeidelik as óf skadelik, óf onskadelik, óf selfs om slegs op grond van interessantheidshalwe, geklassifiseer te word. Alhoewel uiteenlopend, word sommige karakteristieke voorbeelde in hierdie verband soos volg toegelig, naamlik: (i) pêrelkliere (Foto 533); (ii) knel/wurgeffekte deur rankies (Foto’s 534 536); (iii) blaarvergeling by verdigte lowers (Foto 537); (iv) uitskeiding van huilsap (Foto 538); (v) vertraagde bot (Foto 539); (vi) fungisiedoordosering (Foto 540) en (vii) trosse aan stamme/kordonarms (Foto 541).
336 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Made with FlippingBook Ebook Creator