’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD
Opslaglote Ten spyte van sorgvuldige voorbereiding van entmateriaal om onder andere die moontlike totstandkoming van opslaglote in kwekerye – maar veral ook ná wingerdvestiging – op ’n permanente basis te verhoed, bly die sporadiese voorkoms daarvan steeds ’n alombekende verskynsel. Gegewe die vermorsing van reserwes, soos veral by jong aanplantings aan die orde gestel word (Foto 518), word die spoedige, tydige en oordeelkundige uitskakeling daarvan – met inbegrip van die kraagoë op onderstokmateriaal waaruit dit normaalweg ontspring – ten sterkste aanbeveel. Sou onoordeelkundige/foutiewelike aksies in hierdie verband uitgeoefen word, bly die ondervinding dat die omvang van sodanige situasies nie alleen met tydsverloop vererger nie, maar ook dat permanente bekampingsmaatreëls al hoe meer bemoeilik word (Foto 519). Onkruiddoder-fitotoksisiteit Op grond van ernstige fitotoksiese ingrepe soos met die onoordeelkundige/foutiewelike aanwending van onkruiddoders vereenselwig kan word, kan die nougesette inkorporering van spesialisgefundeerde riglyne waarvolgens chemiese onkruidbeheerstrategieë benader en toegepas behoort te word, nie oorbleklemtoon word nie. In hierdie verband kan die tydige toediening van chemiese middels veral as van hoë prioriteit uitgesonder word – om sodoende moontlike opname(s) deur vars snoeiwonde of selfs swellende/ontluikende oë, ten alle koste by blootgestelde stokke te vermy (Foto 520). Oorenting Suksesvolle oorenting van bestaande stokke na alternatiewe kultivars berus hoofsaaklik op: (i) die verkryging van hoë vatpersentasies met normaal en effektieffunksionerende entlaste en (ii) die uitoefening van oordeelkundige aksies ten einde volledige stokontwikkeling tydens dieselfde groeiseisoen te vermag. Ten spyte van spesifiekgestipuleerde riglyne in hierdie verband, sou daar – veral met verwysing na laasgenoemde, óf onoordeelkundigheid, óf nalatigheid aan die dag gelê word – verwag kan word dat die betrokke seisoen ingeboet en agtergeblewe insette na die volgende jaar oorgedra moet word (Foto 521).
324 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Made with FlippingBook Ebook Creator