’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD

Knel-/wurgeffekte In alle gevalle waar bindmateriaal (nylon of plastiektou) benut sou word om windskade tydens stokontwikkeling te bekamp; regop stamme te verkry, of om ontwikkelende kordonarms vas te maak/in posisie te hou, is dit kardinaal van belang dat korrekte prosedures te alle tye stiptelik nagekom word. Indien die uitoefening van sodanige aksies op ’n onoordeelkundige/foutiewelike basis sou berus, kan/mag dit tot ernstige knel/ wurgeffekte aanleiding gee – om sodoende tot kwynende groei of selfs gedeeltelike/totale terug/afsterwing by geaffekteerde stokke by te dra (Foto’s 503 509). Opbou van draers Soos gegrond op omvattende nadele daaraan verbonde, bly dit van belang om die opbou van draers – soos as sulks by opgeleide, sowel as bosstokke deur die uitoefening van onoordeelkundige/foutiewelike wintersnoeipraktyke geïnduseer mag/kan word – op ’n deurlopende basis tot ’n minimum te beperk. In hierdie opsig word ’n grondige kennis van wingerdstokmorfologie, sowel as spesifieke snoeimetodieke ten sterkste aanbeveel – ten einde vir die deurlopende, maar veral tydige uitvoering van spesifieke teenmaatreëls voorsiening te maak (Foto’s 510 & 511). Suier Afgesien van navorsingsbewese voordele soos met die uitoefening van oordeelkundige suieraksies vereenselwig kan word, is die voorkoms van abnormaliteitsverskynsels as resulterend van situasies waar wetenskaplikgefundeerde riglyne op ’n onbevredigende wyse nagevolg word, geensins onbekend nie. In hierdie opsig is dit veral van belang dat die verwydering van ongewenste, jong lootjies (hoofsaaklik onvrugbare en waterlote wat in ongunstige posisies geleë is) in die vroeë groeiseisoen sou geskied, te wete op ’n tydstip wanneer dit maklik afgevryf kan word – om sodoende nie aan enige afbreek/uitskeur of selfs afknipaksies onderwerp te word nie (Foto’s 512 & 513). Topmasjienskade Ten einde topmasjienskade by veral geilgroeiende wingerde te voorkom, bly dit kardinaal van belang dat draerlote tydig in loofdrade ingesteek, korrek geposisioneer en homogene lootlengtes terselfdertyd met die uitoefening van oordeelkundige tipaksies nagestreef word. Ernstige skade kan geïnduseer word waar spesifieke riglyne nie nagevolg word nie – met voorbeelde van situasies waar: (i) rye te straf aan die kante oopgesny; (ii) effektiewe blare oormatig stukkend/weggesny; (iii) trosse/lote beskadig; (iv) lote te kort bokant trosse afgesny (‘ribstekers’) en selfs (v) meerjarige hout aan skadelike ingrepe onderwerp sou word (Foto’s 514 517).

’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 323

Made with FlippingBook Ebook Creator