’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD

stok aangetas word – in welke opsig dit tot ’n verpotte en bossieagtige formaat in opvolging van abnormale ontwikkeling van laterale lote, omskep word (Foto 475). Uiteraard word opbrengste in ernstige gevalle drasties verminder, in samehang daarmee dat stokke swakker groei en met verloop van tyd selfs mag afsterf. Sink Aanvanklik word sinktekorte met die toetrede van visueelwaarneembare tussennerfse chlorose tot apikale blare geassosieer – waarná blare ’n konstante kleiner formaat met vergrote bladsteelsinusse behou (Foto 476). Bykomend hiertoe word lootgroei ingeperk – ’n situasie wat tot die algemene benaming van ‘kleinblaar’ of selfs ‘kleinblaarsiekte’ bygedra het. In ernstige gevalle kan korrels afspeen, om gevolglik tot besonder stingelrige trosse – waarvan die korrels aansienlik in groottes varieer – bydraend te mag wees. Mangaan In teenstelling met die situasie in die suidwestelike dele van Frankryk, is mangaantoksisiteite – volgens die literatuur – nog nie voorheen by wyndruiwe in SuidAfrika gerapporteer nie. Hierteenoor is die plaaslike voorkoms van mangaantekorte geensins onbekend nie, in welke geval abnormaliteitsverskynsels daaraan verbonde te alle tye eerste op ouer blare verskyn en visuele herkenbaarheid verleen aan ’n ligte, tussennerfse chlorose wat in intensiteit tussen die primêre en sekondêre nerwe toeneem – terwyl die areas om die fyner nerwe neig om groen te bly (Foto’s 477 & 478). Alhoewel mangaantekorte in ernstige gevalle met magnesiumtekorte verwar mag word, word eersgenoemde deurgaans met geel verkleurings – selfs by rooidruifkultivars – vereenselwig. Boor Op grond daarvan dat boor as onontbeerlik geoormerk word betreffende normale funksionering van meristeme; seldeling en vergroting; sintese van ouksien, asook ontwikkeling en ontkieming van stuifmeel, kan ernstige ingrepe op inwingerd prestasie(s) van stokke uitgeoefen word, sou dit aan óf tekorte óf oormate daarvan onderwerp word. Boortekorte word met ’n verskeidenheid van abnormaliteitsverskynsels vereenselwig, waarvan almal nie noodwendig en gelyktydig op dieselfde stok(ke) mag voorkom nie. Voorbeelde hiervan sluit die volgende in, naamlik: (i) nekrotiese kolle of ringe op rankies en blomtrosstele; (ii) afloop, swak bevrugting en millerandasie; (iii) afgeplatte, pitlose korrels; (iv) afsterf van lootpunte; (v) verkorte internodia met ’n ‘sigsag’ voorkoms en (vi) dowwe, liggeel onreëlmatige vlekke op apikale blare om deur tussennerfse chlorose opgevolg te word. In die geval van boortoksisiteite word abnormaliteitsverskynsels geïnduseer wat in vele opsigte met dié van boortekorte ooreenstem – om aldus tot verwarring by te dra. Bykomend tot afloop en millerandasie – wat in beide gevalle mag voorkom – word die toetrede van nekrotiese spikkels tot ouer blare en staking in groei van apikale blaarrande, om sodoende tot gladderand, gebobbelde blare wat na onder krul, by te dra, as kenmerkend van boortoksisiteite beskou (Foto’s 479 & 480).

298 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika

Made with FlippingBook Ebook Creator