’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD
MUTASIES/OOGAFWYKINGS Tetraploïed-tipes
Hierdie groep oogafwykings (in die volksmond ook as mannetjiestokke bekend) word daardeur gekenmerk dat in vergelyking met normale stokke, lote daarvan dikker en meer stoets vertoon, terwyl die blare ’n groter, soms effens gekreukelde maar gewoonlik ’n hard-getekstureerde voorkoms openbaar. Die trosse is in die algemeen los, met deurgaans baie minder, dog groter korrels wat aan vervroegde rypwording onderwerp word. Alhoewel sodanige stokke soms ’n interessante voorkoms mag openbaar, is dit deurgaans ondervind dat hierdie groep van afwykings, veral weens heelwat laer opbrengste, oor geen kommersiële waarde beskik nie – om derhalwe as ’n negatiewe mutasie geoormerk te word. Aangesien afwykings binne hierdie groep te eniger tyd by enige stok(ke) oor die totale kultivarspektrum mag toeslaan, bly dit derhalwe kardinaal van belang om voorbeelde daarvan vroegtydig te identifiseer, waarná materiaal – weens die moontlikheid om negatiewe eienskappe vegetatief te vermeerder – vernietig behoort te word. Afloop-tipes By sommige kultivars kom stokke voor waarvan die trosse op ’n deurlopende basis uitermate aan ’n afloopverskynsel onderhewig is. In hierdie verband word abnormali- teitsingrepe by individuele trosse met ’n besondere mate van stingelrigheid daarvan in kombinasie met die voortbring van heelwat minder korrels vereenselwig – ’n situasie wat uiteraard ook deur aansienlike laer opbrengste opgevolg word (Foto 445). Veral in die geval van Muscat d’Alexandrie openbaar stokke in hierdie kategorie besondere sterk groeikrag, met stamme waarvan die omtrek ’n beduidende dikker formaat, vergeleke met normale stokke, aanneem. Volgens oorlewering is afwykings binne hierdie groep, onder andere ook by Chenin blanc, Cinsaut noir, Crouchen, Gamay, Pontak en Wit Muskadel, waargeneem. Korente-tipes Afwykende tipes wat hieronder sorteer, stem in ’n mate met afloop-tipes ooreen, behalwe dat ’n groot aantal klein, ronde pitlose korrels aanwesig is (Foto 446). In sekere gevalle kan al die korrels per tros – met enkele uitsonderings – pitloos wees, soos by Kaapse Korente wat as ’n afwyking van Rooi Muskadel erken word, terwyl by Cinsaut Korente weer meer pitbevattende korrels aangetref word. Dit word algemeen aanvaar dat Griekse of Zante Korente as ’n natuurlike mutasie vanaf ’n normale, pithoudende kultivar ontstaan het. Alhoewel korente-tipes by verskeie kultivars, waaronder Chenin blanc, Grenache noir, Hanepoot en Pontak aangetref word, bly Zante en Kaapse Korente die enigste afwykings binne hierdie groep wat tot dusver as van kommersiële belang geag word.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 283
Made with FlippingBook Ebook Creator