’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD

Hael In die algemeen is haelgeïnduseerde skade – soos vereenselwig met die potensiële en sporadiese voorkoms daarvan in al die plaaslike wingerdbougebiede – maklik identifiseerbaar. Alhoewel stokke veral in die vroeë groeiseisoen besondere kwesbaarheid ten opsigte van haelskade openbaar, kan ernstige skade oor die totale spektrum van fenologiese stadia uitgeoefen word – in welke geval die ekonomiese impak uiteraard deur die intensiteit van storms en groottes van haelkorrels/stene bepaal word (Foto’s 429 433). Weerlig Alhoewel weerligskade nie dikwels by wingerd voorkom nie, kan aansienlike ingrepe by stokke uitgeoefen word – veral in gevalle waar opleidrade direk getref sou word. In reaksie hierop verbruin en verdroog blare en lote vanaf die punte, terwyl trosse uiteraard ook die onderspit delf – ’n situasie wat dikwels in totaliteit oor individuele stokrye waarneembaar is (Foto 434). In gevalle waar jong, sagte lote in die vroeë groeiseisoen direk aan drade sou raak, is die afknak en daaropvolgende verdroging daarvan – met inbegrip van digby geposisioneerde blomtrosse, baie kenmerkend van die stralingseffek soos deur weerlig teweeggebring kan word (Foto 435). In teenstelling hiermee kom verdikkings in posisies van direkte draadkontak by ouer, gedeeltelik gelignifiseerde lote voor – ’n verskynsel soos met die heling/vulling van krake deur middel van kallusvorming, vereenselwig word (Foto 436). Aanvullend hiertoe word die verdroging van murggedeeltes van sodanige lote – om sodoende die indruk te skep dat dit aan die binnekant hol vertoon – as baie kenmerkend van weerligskade beskou (Foto 437). Swawelbrand Aangesien jong blare en trosse ’n uitermate gevoeligheid ten opsigte van swawelbrand by situasies van hoë temperature kort ná bestuiwing openbaar, moet uiters oordeelkundig te werk gegaan word waar stuifbare swawel ter bekamping van toepaslike siektes/plae aan­ gewend sou word. Jong blare brand meestal vanaf die rande en ondergaan ’n tipiese rooi­ bruin verkleuring – waarna dit opkrul en beskadigde dele verhard en verdroog (Foto 438). In die geval van ouer blare kan brandskade, benewens die rande, ook op gedeeltes tussen hoofnerwe voorkom – in welke opsig blare dan egter normaal vertoon met die uitsondering van droë, rooibruin vlekke tussen die nerwe. By korrels word swawelbrand met die ontwikkeling van gladde, donkerbruin tot swart verkleurings (waarbinne barsies voorkom) vereenselwig – in welke geval die tekstuur van gebrande areas hard vertoon om sodoende tot asimmetriese korrelontwikkeling aanleiding te mag gee (Foto’s 439 441). ABIOTIESE ABNORMALITEITE Hael, weerlig, swawelbrand, rouband en groeistilstand 6.3

272 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika

Made with FlippingBook Ebook Creator