’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD
ABIOTIESE ABNORMALITEITE Wind-, hitte-, sonbrand- en rypskade 6.1
Windskade Oorkoepelend kan wind – afhangende van die spoed/sterkte daarvan – as een van die belangrikste en mees bekende omgewingstoestande in terme van skadelike ingrepe, soos by wingerd(e) uitgeoefen kan word, beskou word. In uiterste gevalle word blare, lote, korrels en trosse deur sporadiese stormwinde afgeruk, terwyl situasies ook al voorgekom het waar ernstige/vernietigende skade aan stokke en selfs prieelstelsels aangerig is (Foto’s 391 393). Alhoewel stokke deurlopend tydens die groeiseisoen ontvanklikheid ten opsigte van windskade openbaar en individuele kultivars oor variërende grade van gevoeligheid daarteenoor beskik, is dit veral tydens spesifieke fenologiese stadia besonder kwesbaar en kan organe sodanig beskadig word dat normale fisiologiese aktiwiteite gekortwiek word – veral in areas waar sterk, maar selfs ook meer gematigde heersende winde voorkom. Tipiese voorbeelde hiervan sluit die skaaf van lote, blaar en trosstele teen loofdrade in – in welke geval vaatweefsel sodanig beskadig word dat dit in onvermoë ten opsigte van optimale translokasieprosesse verval (Foto’s 394 397). Ter aanvulling kan wind gedurende die blomperiode onder andere ook tot swak(ker) set van korrels bydra (Foto 398), terwyl die verwelking en verdroging van jong lootpunte tydens warm dae geen uitsonderlike verskynsel is nie – veral in gevalle waar grondwater beperk is. Bykomend hiertoe moet indirekte windskade, soos verbandhoudend met moontlike witluis en rolblaarverspreiding, nooit uit die oog verloor word nie, maar deurlopend as van hoë prioriteit beskou word. Hitteskade Alhoewel hitte en sonbrandskade gesamentlik kan voorkom, word eersgenoemde normaalweg met situasies geassosieer waar wingerdweefsel/organe ten gevolge van oorverhitting beskadig word sonder om regstreeks aan direkte son blootgestel te word. Tiperend hiervan is die verwelking en verdroging van aktiefgroeiende lootpunte tydens óf hittegolfperiodes óf bloot in gevalle waar skielike temperatuurverhogings in opvolging van relatief koel lentetoestande sou voorkom – ’n verskynsel wat uiteraard deur droë winde vererger word. Afgesien van onder andere Muscat d’Alexandrie, waar ouer blare dikwels aan die ontwikkeling van onegalige, geel tot bruin hittevlekke onderwerp word (Foto 399), is die ingreep van hittebeskadiging/vlek veral by trosse waarneembaar – waarvan die korrels op enige stadium vanaf set tot kort voor rypwording aan variërende grade daarvan onderwerp word. In sodanige gevalle (weens oorverhitting van vrugweefsel) ontstaan kenmerkende induikings – waarvan die weefsel mettertyd vanaf die binnekant verbruin – op korreloppervlaktes om sodoende tot misvormde ontwikkeling en uiteindelike verdroging daarvan by te dra (Foto’s 400 & 401). Die inkrimp en uiteindelike verdroging van korrels in reaksie tot die verbruining/verdroging van gedeeltes van die trossteel/raamwerk kan as ’n bykomende karakteristieke voorbeeld van hittebeskadiging uitgesonder word –
250 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Made with FlippingBook Ebook Creator