’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD
vreetpatrone van muise, kan die voorkoms van hierdie plaagverskynsel ook deur gate/tonnels wat normalerwys digby gevestigde stokke te vinde is, bevestig word (Foto 383). Rysmiere Die voorkoms van rysmiere – soos prominent waarneembaar tydens die fases van aktiewe benutting van onder andere droë stokkies, grasse en ander plantmateriaal om nesopeninge vóór reëns te bedek – het geen bekendstelling nodig nie (Foto 384). In hierdie verband is gevalle al gerapporteer waar – by moontlike skaarstes aan bogenoemde materiaal – jong wingerdblare en groenlote (of gedeeltes daarvan) vir bogenoemde aksies aangewend kan word. Sodanige situasies kom egter byna uitsluitlik slegs by nuutaangeplante stokkies voor en word van weinig belang ten opsigte van ernstige vreetskade beskou. Dassies Alhoewel vreetskade deur dassies as ’n ietwat ongewone verskynsel beskou word, is insidente aan die lig gebring waar wingerdblare en jong lootgedeeltes binne die aptyt daarvan gesetel was (Foto’s 385 & 386). Aangesien geen karakteristieke vreet of beskadigingspatrone by aangetaste stokke voorkom nie, moet hierdie sondebokke spreekwoordelik op heter daad betrap word ten einde skadelike ingrepe positief met die voorkoms daarvan in verband te bring. Uiteraard behoort sodanige situasies volgens verwagting slegs tot gebiede waar dassies algemeen voorkom, beperk te wees. Wildsbokke Die sporadiese voorkoms van vreetskade, soos deur wildsbokke by stokke aangerig kan word, is geen uitsonderlike verskynsel nie – veral nie waar sodanige wingerde nie wildwerend omhein is nie en nabygeleë bos en bergagtige terreine sou voorkom. Gegewe die situasie dat karakteristieke vreetpatrone dikwels ontbreek (Foto 387), berus identifikasieprosedures betreffende die spesifieke oorsaak merendeels op besonderhede van spore en uitwerpsels in die onmiddellike omgewing van beskadigde stokke. Ernstige skade kan egter ook by stokke binne omheinde wingerde uitgeoefen word – soos veral weerspieëlend van situasies waar hekke oopgelaat sou word om sodoende onverhinderde toegang tot onder andere gewone plaasdiere, soos bokke, beeste en skape te verleen (Foto 388). Motte/skoenlappers Gedurende die groeiseisoen is die algemene inwingerd voorkoms van motte en skoenlappers – waarvan die vlerke by sommige voorbeelde in kleurryke patrone getooi is – geen ongewone verskynsel nie. Alhoewel die uitoefening van direkte skade nie as sulks aan bogenoemde toegedig kan word nie, is die teendeel dat ernstige vreetskade deur die larwalestadia daarvan by spesifieke organe van aangetaste stokke aangerig kan word – ’n situasie wat onder bevorderlike/ optimale omgewingstoestande tot epidemiese ingrepe aanleiding mag gee (Foto’s 389 & 390).
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 239
Made with FlippingBook Ebook Creator