’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD
Voëls Abnormaliteite soos aan voëlskade verbonde, is baie kenmerkend en word normaalweg met karakteristiek visueelwaarneembare pik en vreetpatrone by rypwordende/ryp druiwe geassosieer. ’n Algemene tendens by kleiner voëlsoorte kom daarop neer dat gate in individuele korrels gepik en die totale of gedeeltelike inhoud gevreet word – om sodoende gemaklike toetredingsmoontlikhede aan ’n wye verskeidenheid van sekondêre verrottingsorganismes te verleen (Foto’s 373 & 374). In die geval van groter voëls (met spreeus as voorbeeld) word heel korrels verwyder – ’n situasie wat afhangend van die gebied, kultivar en wingerdligging tot aansienlike/totale oesverliese kan bydra (Foto’s 375 & 376). Bykomend hiertoe moet indirekte voëlskade, soos verbandhoudend met moontlike witluis en rolblaarverspreiding, nooit uit die oog verloor word nie, maar deurlopend as van hoë prioriteit beskou word. Sakwurms Alhoewel die sporadiese voorkoms van sakwurms (in SA ook onder die benaming van ‘broekmanwurms’ bekend) as ’n bekende verskynsel in veral die gebiede van Stellenbosch en AgterPaarl gesetel is, word grootskaalse skade soos aan die voedingsaktiwiteite daarvan verbonde, nie juis as besonder kommerwekkend beskou nie. Die visuele voorkoms van sakwurms – waarvan die larwes in kunstig bereide ‘kokonne’ (bestaande uit ’n stewige sak van sydrade rondom die liggaam waaraan kortgebyte stokkies of grashalms vasgeheg is) – maak dit as plaagverskynsel uiters positief herkenbaar (Foto 377). Tydens die aktiewe stadia word dikwels ondervind dat sakwurms in hul stokkies‘kokonne’ aan wingerdblare hang waartydens die kop en voorlyf uitgesteek word om gate daarin te vreet (Foto 378). Hoewel volgens oorlewering geen ernstige skade by wingerd aangerig word nie, behoort die moontlikheid van epidemiese uitbrake in ag geneem te word (veral waar dit in kombinasie met ander plae sou voorkom) – in soverre dit aanbeveel word om op hoogte van identifikasieprosedures hieromtrent te verkeer. Knaagdiere Vreetskade deur muise as knaagdiere word hoofsaaklik met ringeleringsaktiwiteite wat in variërende grade van intensiteit op bo, sowel as ondergrondse stamgedeeltes by gevestigde stokke uitgevoer word, geassosieer. In sodanige gevalle word ondervind dat die bas en floëem oor groot gedeeltes en selfs rondom stamme afgevreet/losgeskeur word ten gevolge waarvan die kambium blootgelê word (Foto 379). Alhoewel hierdie skadelike ingrepe normalerwys onder die grondoppervlakte uitgevoer word, in welke geval oormatige kallus en wortelvorming geïnisieer word ten einde stokke aan die gang te probeer hou (Foto 380), word ’n onvermoë tot tydige oorbrugging van floëem oor groot gedeeltes by die bogrondse voorkoms van ringeleringswonde ondervind – soos as sulks selfs tot aan die bokant van entlaste kan strek (Foto’s 381 & 382). Uiteraard spreek dit vanself dat normale fisiologiese prosesse by aangetaste stokke in so ’n mate gekortwiek word dat benewens agteruitgang, algehele terug/afsterwing by veral jonger stokke in die gesig gestaar word. Benewens karakteristiek visueelwaarneembare WINGERDPLAE Voëls, sakwurms, knaagdiere, rysmiere, dassies, wildsbokke en motte/skoenlappers 5.7
238 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Made with FlippingBook Ebook Creator