’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD

feitlik slegs blaarstele oorbly en (ii) die voorkoms van kenmerkende, bolvormige uitwerpsels by individuele gevalle. Lentekewers Lentekewers is ongeveer 2 tot 3 cm lank, helder gekleurd en vlieg met ’n harde bromgeluid. Alhoewel verskeie vrugtesoorte deur die voedingsaktiwiteite van volwassenes aangetas word, word dit nie as ’n kommerwekkende situasie by druiwe beskou nie. In die afgelope tyd het lentekewers egter tot ’n belangrike wingerdplaag in die Oranjerivier-besproeiingsgebied ontwikkel, waarna vestiging as ’n bekende verskynsel tot feitlik al die streke uitgebrei het. Die kewers kom gedurende die somer in groot getalle voor waartydens blare sodanig gevreet kan word dat feitlik slegs die hoofnerwe behoue bly. Alhoewel karakteristieke vreetpatrone (Foto’s 367 & 368) hiermee geassosieer word, bestaan moontlikhede van verwarring met ander oor- sake – in welke gevalle die inwin van deskundige advies ter bevestiging sterk aanbeveel word. Verwelkbesies Alhoewel die sporadiese voorkoms van verwelkbesies as ’n bekende verskynsel in die SA wingerdbedryf gesetel is, word grootskaalse skade, soos aan die voedingsaktiwiteite daaraan verbonde, nie juis as van uitsonderlike belang beskou nie. Sou bevorderlike omgewings- toestande egter tot die totstandkoming van epidemiese plaaggetalle aanleiding gee, kan ernstige skade tydens aktiewe lootgroei in die vroeë groeiseisoen ontketen word – veral by jong stokke, asook in gevalle waar ’n hoë prioriteit op homogene lootlengtes by opgeleide stokke geplaas word. Voedingsaksies word met die insteek van ’n stilet – waarmee selsap uit die vaatweefsel onttrek word – net onder die kromming van ’n aktief-groeiende spruitpunt vereenselwig (Foto 369), om sodoende ’n indruk te skep dat laasgenoemde in so ’n mate uitgesuig word dat dit aan verwelking en daaropvolgende verdroging onderwerp word (Foto 370). Volgens die literatuur is sodanige situasies egter in ’n meerdere mate ver- bandhoudend met nadelige speekselstowwe wat tydens voeding afgeskei word. Blaaspootjies Sedert die voorkoms van en skade, soos deur die voedingsaktiwiteite van blaaspootjies by veral wingerdblare en druifkorrels aangerig word, vir die eerste keer in die Porterville-area waargeneem is, het hierdie plaagverskynsel stelselmatig tot feitlik alle plaaslike gebiede toegetree. Blaaspootjies beskik oor bytend-suiende monddele, waarmee plantweefsel oppervlaktes gerasper of deurboor word, waarna vrygelate selsap opgesuig word. Blare word van albei kante aangetas, ten gevolge waarvan duidelike kolle of groot vlekke met ’n silwer skynsel ontstaan (Foto 371) – ’n situasie wat by hoë populasies tot algehele verkleuring daarvan met selfs grotendeelse ontblaring van stokke mag bydra. Hoewel korrels reeds in die vroeë groeiseisoen – veral tydens set – aangetas word, is vreetskade baie duidelik as ’n verharde/verkurkte verkleuring (veral aan die bokant van die volgroeide korrel rondom die korrelsteel) herkenbaar (Foto 372).

’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 227

Made with FlippingBook Ebook Creator