’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD
WINGERDPLAE Knoppiesblaar- en knopmyt 5.4
Knoppiesblaarmyt Ná oorwintering in oë en eierlegging tydens oogswel, migreer uitgebroeide volwasse myte na ontluikende blare ten einde hul voedingsaktiwiteite aan die onderkante daarvan uit te voer. Ten gevolge hiervan word kenmerkende insinkings (holtes) met uitbultings (galle) wat aan die bokante uitstulp, aan die orde gebring (Foto 324). Jong, individuele galle is normaalweg ryklik met massas, wit haaragtige uitgroeisels aan die onderkante bedeel – wat mettertyd verbruin namate die galle verouder (Foto’s 325 & 326). In die algemeen word galle – veral wanneer dit in beperkte getalle op slegs enkele blare aan aangetaste stokke sou voorkom – nie juis as kommerwekkend beskou nie. In teenstelling hiermee moet gevalle waar stokke reeds in die vroeë groeiseisoen aan erge knoppiesblaarmytinfestering onderwerp sou word (Foto 327) – veral waar blare sodanig aangetas word dat: (i) wit groeisels selfs aan die bokante waarneembaar is en (ii) onderkante in totaliteit daarmee bedek en ’n indruk geskep word dat totale blaaroppervlaktes in die formaat van massiewe galle (met rande wat na onder krul) uitstulp – in ’n ernstige lig beskou word (Foto’s 328, 329 & 330). Op grond daarvan dat die normale fisiologiese funksies van blare ernstig deur knoppiesblaar gestrem kan word (Foto 331) – met ’n gepaardgaande swakker inwingerd prestasie by aangetaste stokke – word die weg gebaan om hierdie plaagverskynsel as van ekonomiese belang uit te sonder. Knopmyt In teenstelling met knoppiesblaar, migreer uitgebroeide volwasse knopmyte nie na ontluikende blare nie, maar word veral basale oë (eerste vier tot ses) van verlengende groenlote binnegedring ten einde daarbinne te voed, te vermeerder en uiteindelik weer te oorwinter. Ten gevolge van hierdie voedingsaktiwiteite – wat gewoonlik tydens die verloop van die groeiseisoen deur toenemende mytgetalle al hoe dieper in oë uitgevoer word – kan ernstige skade aan lootprimordia as geheel of slegs aan spesifieke blaar en blom trosprimordia aangerig word. By ’n hoë mate van infestering kan primêre oë selfs gedood word, om sodoende tot geen uitbot daarvan aanleiding te gee – ’n situasie wat gewoonlik deur vertraagde of onegalige bot van sekondêre en tersiêre oë (wat dikwels onvrugbaar is) opgevolg word (Foto’s 332 & 333). In gevalle waar knopmytbeskadigde primêre oë wel aan uitbot en groei onderwerp sou word, word karakteristiek, visueelwaarneembare abnormaliteite by lote en toepaslike organe aan die orde gebring, naamlik: (i) kleiner, misvormde blare met geronde tandpunte aan die basisse en bladsteelsinuspante wat oor vleuel; (ii) verkorte, stomp en kompakte trossies en (iii) plat lote met verkorte internodia en ’n sigsag groeiwyse (Foto’s 334 & 335). Op grond daarvan dat normale fisiologiese funksies van veral basale blare ernstig deur knopmyt gestrem kan word en laer of selfs geen oesopbrengste geïnduseer mag word – word ook hier (soos by knoppiesblaar) die regverdiging ingesien om hierdie plaagverskynsel as van ekonomiese belang te beskou.
208 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Made with FlippingBook Ebook Creator