’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD

Filloksera.

welke geval wingerdwortels sodanig deur die voedingsaksies daarvan verswak word dat ernstige ingrepe op beide die groeikragtigheid en produktiewe lewensverwagting van stokke uitgeoefen kan word. Ooreenstemmend met filloksera en margarodes, word bogrondse abnormaliteite met ’n geleidelike afname in die groei- en dravermoëns van aangetaste stokke – dikwels in kolpatrone – vereenselwig. Ondergrondse abnormaliteite word veral in die geval van knopwortelaalwurms deur die voorkoms van ronde galle op jong wortels (Foto 285), asook ’n gebrek aan sywortels weerspieël, terwyl volwasse wyfies soms as klein, wit pêrels in die galle waargeneem kan word. Hoewel moontlik minder prominent, word haakagtige galle, soortgelyk aan dié wat deur filloksera veroorsaak word, ook deur dolkaalwurms op jong wortelpunte geïnduseer (Van Zyl et al ., 2012). Oorkoepelend kan die skade wat deur aalwurms uitgeoefen word veral aan die volgende aspekte toegeskryf word, naamlik: (i) direkte beskadiging (meganiese penetrasie deur middel van stilette) van die wortel om daarop te voed, met die gevolglike daarstelling van toeganklike verwondingspoorte vir gemaklike infeksie deur nadelige verrottingsorganismes en (ii) deponering van stowwe in die speeksel tydens voeding waardeur selle óf kan afsterf (selfs oor ’n afstand) óf tot abnormale verdeling geprikkel kan word – waardeur wortelgroei/-ontwikkeling gestop en die opname van water en voedingstowwe ernstig aan bande gelê word. Bykomend moet die oordraging van netelblaar-geassosieerde virusse deur dolkaalwurms – wat as erkende vektore daarvan opereer – in ’n ernstige lig beskou word, in soverre dat stokke selfs gedood kan word. Aangesien makwortels ( Vitis vinifera ) ook hier oor geen weerstand beskik nie, bly die benutting van weerstandbiedende onderstokke steeds die enigste metode om hierdie plaag op die lange duur te bekamp. In die lig daarvan dat variërende grade van weerstandbiedendheid egter gehandhaaf word en aalwurms (benewens deur middel van plantmateriaal) uiters doeltreffend deur bewerkingsimplemente, dreinerings- en veral besproeiingswater versprei kan word, word aanbeveel dat vir werklik effektiewe bekamping, toepaslike riglyne soos voortspruitend uit onlangse navorsingsbevindings (Hugo & Malan, 2011a, b, c) – met klem op be- sproeiingswater – nagestreef word.

FOTO 275. Die voorkoms van filloksera (as gelerige groen plantluise) op ’n jong wortelpunt word hier geïllustreer. Let daarop dat galvorming reeds ’n aanvang geneem het, waardeur verdere wortelgroei totaal aan bande gelê word. Die wit kristalle op die foto is simboliserend van sand-kwartsdeeltjies en moet nie met een of ander stadium van die lewensiklus van filloksera verwar word nie.

180 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika

Made with FlippingBook Ebook Creator