’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD

aan die bokante veroorsaak word, verwar moet word nie. Alhoewel die blaarvorm algemeen in die meeste oorsese lande voorkom, is dit plaaslik ’n uiters seldsame verskynsel. Margarodes Hoewel margarodes as ondergrondse plaag moontlik nie met dieselfde mate van bekendheid – wanneer met filloksera en nematodes vergelyk word – bedeel is nie, kom dit wydverspreid in feitlik alle wingerdbougebiede voor, in welke hoedanigheid ernstige skade by geënte droog, tafel en wyndruifstokke aangerig word. In teenstelling met filloksera, is egter geen weerstandbiedende onderstokke bekend nie, wat meebring dat hierdie plaag – wat tot totale afsterwing van stokke oor die kort en langer termyn kan bydra – aan uiters moeilike beheer/ bekampingsmaatreëls onderworpe is. In die lig daarvan dat die omvang van skade wat deur margarodes aangerig word en die verspreiding daarvan oor die afgelope jare eerder toegeneem as afgeplat het, word toonaangewende navorsing by LNR InfruitecNietvoorbij (Stellenbosch) onderneem waarin verskeie oorkoepelende aspekte rakende die kompleksiteit soos by margarodesaangeleenthede betrokke is, te ontrafel. Voortspruitend uit hierdie navorsing het verskeie insiggewende en bedryfstoepasbare inligting reeds in publikasieformaat verskyn, waarin onder andere die lewensiklus en seisoenale voorkoms daarvan uitgeklaar is – waarsonder die implementering van doeltreffende beheerstrategieë nie moontlik sou wees nie (De Klerk & Vermeulen, 2007; De Klerk & Carstens, 2010; De Klerk et al ., 2011). Bogrondse abnormaliteite stem baie ooreen met dié van filloksera en word aanvanklik met swakker groei (korter en dunner lote met kleiner blare) geassosieer, waarna afsterwing van een of meer arms voorkom om uiteindelik deur algehele ondergang/uitwissing van aangetaste stokke – dikwels in kolpatrone – opgevolg te word (Foto 282). Geen karakteristiek visueelwaarneembare galle of ander abnormaliteite – soos in die geval van filloksera – word egter op wortels aangetref nie. Voedingsaksies word deur die larwestadium van die lewensiklus van margarodes uitgeoefen, waartydens lang suigende monddele in die wortels gesteek, selsap uitgesuig en ’n skadelike stof (stowwe) vermoedelik in die weefsel gedeponeer word – ten gevolge waarvan die groeivermoë van stokke sodanig benadeel word dat dit mettertyd afsterf. Terselfdertyd word verskeie lae van harde was afgeskei (waarmee die larwes spreekwoordelik ingehul word) om tot die vorming van siste (grondpêrels) aanleiding te gee. Die voorkoms van sodanige siste – wat met die blote oog waargeneem kan word – in die nabyheid van wortels van aangetaste stokke, kan as die mees kenmerkende aanduiding van die aanwesigheid van hierdie plaag uitgesonder word (Foto 283). Nematodes Nematodes (aalwurms) is mikroskopies klein (Foto 284) en tas die wortelstelsels van feitlik alle gewasse aan. Plaaslik word hierdie wydverspreide plaagverskynsel hoofsaaklik met die voorkoms van: (i) letsel; (ii) knopwortel; (iii) spiraal en (iv) dolkaalwurms geassosieer – in

’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 179

Made with FlippingBook Ebook Creator