’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD

VIRUS- EN VIRUSAGTIGE SIEKTES Aster-vergeling 4.7

Karakteristieke abnormaliteite/morfologiese reaksies en veranderings In opvolging van die oordrag na gesonde plantmateriaal (hetsy deur enting of deur blaarspringers as suigende, floëemvoedende insekte) beweeg Astervergeling geassosieerde fitoplasmas ongehinderd van sel tot sel in alle rigtings, om as sulks – in sistemiese formaat – stelselmatig in die floëem van alle organe van ’n wingerdstok te versprei (Foto 261). Kenmerkend van hierdie siekte is ernstige vertraagde of selfs geen bot (wat uiteindelik tot algehele terugsterwing van draers kan bydra) en verdwergde lootgroei op gedeeltes van stokke – met ’n bykomende neiging om oral op die stamme (en selfs kordonne) talryke waterlote (dikwels in bossieagtige formaat) te vorm (Foto 262). Gepaard gaande hiermee word die toetrede van karakteristieke, visueelwaarneembare abnormaliteite (veral in die vroeë groeiseisoen) geïnduseer, om aanvanklik aan ’n verharding en verkreukeling van blare uiting te gee (Foto’s 263 & 264). In samehang hiermee word vergeling en koperkleurige verrooiing by onderskeidelik wit en rooidruifkultivars aan die orde gestel (Foto’s 265, 266 & 267), waarná hierdie geaffekteerde blare opvallend bros en dikker as normaal vertoon, met rande wat na onder rol (Foto 268). Tiperend van Astervergeling is die verskynsel van aangetaste lote om, benewens die kortlittigheid daarvan en die vroeë afsterf van groeipunte (Foto’s 269 & 270), nie aan normale lignifikasie onderwerp te word nie – om derhalwe óf glad nie óf slegs gedeeltelik te verhout. Die voorkoms van ’n loodgrys kleur (wat met die vinger afgevryf kan word) op sodanige groen lote, wat veral in die geval van Chardonnay soms met vlakliggende, langwerpige barsies/krakies aan die oppervlakte gepaard gaan, word as baie kenmerkend van hierdie siekte erken (Foto’s 271 & 272). Globaal beskou kan die abortering van jong trossies en gedeeltelike afsterf van groter trosse (Foto’s 273 & 274) as van die belangrikste bydraende faktore tot verlaagde produktiwiteit by geïnfekteerde stokke uitgesonder word, terwyl moontlike anatomiese reaksies/veranderings van die floëem weer tot onvoldoende en versteurde fisiologiese aktiwiteite aanleiding mag gee – om sodoende ’n bydrae tot die verkorte lewensduur van stokke te lewer.

’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 169

Made with FlippingBook Ebook Creator