’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD
VIRUS- EN VIRUSAGTIGE SIEKTES Wingerdvlek (fleck) en rasperblaar (enasie) 4.6
Fleck Volgens die literatuur (Bovey et al ., 1980; Marais, 1981; Ferreira & Venter, 1996; Constable & Rodoni, 2011) kom fleck – ook algemeen bekend as marbrure – waarskynlik wêreldwyd voor. Teen die agtergrond dat fleck ’n latente aanwesigheid in materiaal van bostok en meeste onderstokkultivars openbaar, word die uitdrukking van visueelwaarneembare, karakteristieke kenmerke wat daarmee geassosieer word aan bande gelê, waardeur korrekte identifikasieprosedures uiteraard gekortwiek word. Tipies visueelwaarneembare abnormaliteite hieraan verbonde, word ten beste blootgelê deur die benutting van Vitis rupestris en spesifiek du Lot (St. George) as indikatorkultivar. In hierdie geval word chlorotiese, deurskynende nerfonderbrekings op veral fyner blaarnerwe van die derde orde geïnduseer – terwyl opwaartse rol van blaarrande en ’n effense verkreukeling van die lamina ook kan voorkom (Foto 249). Alhoewel fleck as ’n entoordraagbare virussiekte geklassifiseer is, word verbasend min in die literatuur weergegee betreffende die effek daarvan op algemene inwingerd prestasie en die visuele voorkoms van geïnfekteerde stokke – veral wanneer dit afsonderlik sou voorkom. In meeste gevalle word egter wel na die toetrede van vertraagde bot, swakker groeikrag, verdwerging van jong stokke en die moontlike ontstaan van affiniteitsprobleme verwys. Alhoewel met onlangse navorsing (Santini et al ., 2011) oor ’n verandering in die padweg van normale antosianiensintese by geïnfekteerde Nebbiolostokke gerapporteer word, was dit in gevalle waar fleck in kombinasie met netelblaar voorgekom het. Allesomvattend kan geredeneer word dat die wêreldwye verspreiding van fleck na alle waarskynlikheid aan die latente voorkoms daarvan by kultivars van Vitis vinifera (asook by vele bo en onderstokkruisings) toegeskryf kan word – om sodoende die weg te baan vir virus(se) wat daarmee geassosieer word, om ongehinderd/ongesiens deur middel van plantmateriaal versprei te word. Enasie Soortgelyk aan fleck kom enasie na alle waarskynlikheid ook wêreldwyd voor (Winkler et al ., 1974; Marais, 1981) – in welke opsig die voorkoms daarvan met benewens vertraagde bot en lootgroei, deur die blootlegging van ’n heksebesemformaat by jong lote, asook by volgroeide stokke vereenselwig word (Foto’s 250, 251, 252 & 253). Teen die agtergrond dat lootgroei gewoonlik normaliseer namate die groeiseisoen vorder, maar veral weens die wisselvallige voorkoms van karakteristiek, visueelwaarneembare abnormaliteite van jaar tot jaar op dieselfde stokke, word konkrete identifikasieprosedures egter uitermate aan bande gelê. Tiperend van enasie (wanneer dit afsonderlik sou voorkom) is die verskyning van reguit of gekartelde uitgroeisels – wat in lengte verskil – aan die onderkante van blare en parallel aan die hoofnerwe, terwyl kleiner uitgroeisels selfs tussen die nerwe mag ontwikkel (Foto’s 254 & 255). Blare wat sodanige uitgroeisels openbaar, is gewoonlik
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 161
Made with FlippingBook Ebook Creator