’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD

VIRUS- EN VIRUSAGTIGE SIEKTES Shiraz-terugsterwing 4.5

Morfologiese en anatomiese reaksies/veranderings Kenmerkend by stokke geassosieerd met Shirazterugsterwing is die voorkoms van abnormaal verdikte (geswolle) entlaste met krake – wat gewoonlik in meeste gevalle vanaf 5 6 jaar na aanplanting verskyn (Foto’s 242 & 243). Hierdie tendens – wat veral met basverwydering blootgelê word – word op stamgedeeltes aan die bokante van entlaste (onderstokkomponente vertoon visueel normaal) voortgesit wat veral by meer sensitiewe klone deur die ontwikkeling van diep krake/gleuwe (selfs op kordonarms) verteenwoordig word (Foto’s 244 & 245). Terselfdertyd vind ’n verharding van aangetaste houtgedeeltes plaas, met ’n gepaardgaande ontwikkeling van nekrotiese areas – in variërende grade van intensiteit. Samehangend met stamabnormaliteite word ’n rooi verkleuring van alle blare aan geïnfekteerde stokke vanaf middel tot laat somer waargeneem, wat anders as in die geval van byvoorbeeld rolblaar totale blaaroppervlaktes (sonder rol van blaarrande) insluit (Foto’s 246 & 247). Anatomiese ondersoeke (Grenan et al ., 2007; Goszczynski, 2011 ea) van stokke geassosieerd met Shirazterugsterwing het ’n abnormale funksionering van die kambium aan die lig gebring soos weerspieël word daarin dat selle (individueel of in naasliggende groepe) binne die kambiale sone geleidelik aan nekrose onderwerp word – om sodoende tot ’n onderbroke kambiumring/gordel aanleiding te gee. Uiteindelik vind ’n sodanige situasie uiting daarin dat ’n ernstige afname op ’n jaarlikse basis betreffende die differensiasie van nuwe, normaal funksionerende vaatweefsel (sekondêre xileem en floëem) in die omgewing van aangetaste areas geïnduseer word – wat uiteraard ook ’n verklaring vir die visuele voorkoms van krake/groewe/riwwe kan bied (Foto 248). Hoewel bogenoemde bevindings as ’n belangrike oorsaak ten opsigte van terugsterwing beskou kan word, is die werklike rede(s) vir kambiumnekrose steeds nie bekend nie en word navorsing voortgesit. Globaal beskou kan – by stokke geassosieerd met Shirazterugsterwing – anatomiese veranderings van of nekrose van die kambium met daaropvolgende versteurde differensiasie en belemmerde funksionering van die kambiumderivate uitgesonder word as belangrike, indien nie die belangrikste oorsake van onvoldoende en versteurde fisiologiese aktiwiteite wat dan weer tot abnormale morfologiese karaktertrekke aanleiding gee. In gevalle waar onsekerhede ten opsigte van identifikasieaangeleenthede sou voorkom – soos waar hierdie terugsterwingsverskynsel (wat ’n noue verwantskap met stres vertoon) onder andere met óf gleufstam, óf ringelasie/knel/verwurging van stamme en lote, óf selfs met kroongal verwar kan word, word die inwin van deskundige advies ten sterkste vir bevestiging aanbeveel. Betreffende intensiewe navorsing wat steeds onderneem word, word die hoop uitgespreek dat bevindings wat daaruit mag voortvloei, binne afsienbare tyd sal meewerk om die werklike oorsaak of oorsake van hierdie vernietigende verskynsel by Shiraz aan die kaak te stel.

’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 157

Made with FlippingBook Ebook Creator