’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD

Anatomiese en fisiologiese reaksies/veranderings Voortspruitend uit karakteriseringsondersoeke van stokke visueelgeïnfekteerd met Shiraz­ siekte (Goussard & Bakker, 2006/7), word die kambium en kambium derivate van hoofsaak­ lik lote en trosse aangetas – om sodoende tot versteurde differensiasiepatrone in veral die sekondêre floëem, maar ook die sekondêre xileem, aanleiding te gee. Karakteristieke anatomiese reaksies/veranderings soos hierdeur voortgebring (Foto’s 236, 237, 238, 239 & 240), is weerspieëlend van: (i) die kambium wat tussen die xileemstrale in die rigting van die murg ingeduik word om aan eersgenoemde ’n intens golwende voorkoms te verskaf; (ii) differensiasie van abnormaal groot hoeveelhede floëem ten koste van xileem; (iii) afwesigheid van sekondêre floëemveselbande; (iv) geen of swak ontwikkelde kurkkambium en kurk; (v) onderontwikkelde of afwesige primêre floëem en (vi) atipiese xileem met klein, opmekaargepersde houtvate. Betreffende fisiologiese reaksies in terme van druifsamestelling (met oes) was veral suiker en antosianienkonsentrasies beduidend laer, in samehang met ’n hoër konsentrasie titreerbare suur. Opvallend was die betekenisvolle verlaagde styselinhoud van lote wat tydens wintersnoei voorgekom het. Soos gegrond op boge­ noemde resultate/waarnemings kon die effek(te) wat deur hierdie reaksies/veranderings – afsonderlik, asook in wisselwerking – op stokgroottes, loot, blaar en troskaraktertrekke uitgeoefen word, so verklarend moontlik uiteengesit word. Globaal beskou kan anatomiese reaksies/veranderings van die kambium met daaropvolgende versteurde differensiasie en funksionering van die kambium derivate uitgesonder word as belangrike, indien nie die belangrikste oorsake van onvoldoende en versteurde fisiologiese aktiwiteite wat dan weer aanleiding gee tot abnormale morfologiese eienskappe. Allesomvattend is die onvoorspelbare teikening en eienaardige patroon van verspreiding met die gepaardgaande vernietigende uitwerking (Foto 241) van Shirazsiekte op wingerdstokke – selfs al sou sodanige wingerde steun op vestiging as gesertifiseerde materiaal. Intensiewe navorsing word steeds onderneem om wetenskaplik gefundeerde verklarings te formuleer ten einde lig te werp op: (i) redes vir die eienaardige patroon van verspreiding; (ii) waarom die siekte tot hoofsaaklik Shiraz en Merlot noir beperk bly; (iii) die voorkoms van ander vektore bykomstig tot witluis en (iv) die virus en/of virusagtige entiteite spesifiek geassosieerd met Shirazsiekte. Betreffende (iv) hierbo is reeds ver gevorder en word die hoop uitgespreek dat bevindings hieromtrent mag meebring dat die bykomstige aspekte binne afsienbare tyd uitgeklaar sal word.

’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 147

Made with FlippingBook Ebook Creator