’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD

Virus associated phenomenon (1); thickened graft union (2).

VIRUS- EN VIRUSAGTIGE SIEKTES Shiraz-siekte 4.4

Verspreiding Alhoewel erkende vektore soos witluis (soos by rolblaar) ook hier by oordraging en verspreiding betrokke is (Goszczynski & Jooste, 2003), verskil die situasie radikaal en is Shirazsiekte weerspieëlend van ’n tipiese en unieke verspreidingspatroon en tempo (Engelbrecht & Kasdorf, 1990). Tiperend hiervan – soos in ’n Merlot noir/Richter 99blok (gevestig as gesertifiseerde materiaal) te Welgevallenproefplaas waargeneem kon word – was ’n skielike en onvoorspelbare teikening van drie naasliggende stokke in ’n bepaalde ry (Foto 224). In teenstelling met rolblaar het verspreiding hierna nie binne dieselfde ry of booor rye voorgekom nie, maar het Shirazsiekte gaandeweg op naasliggende stokke (in groepe van drie tot vier, maar nie meer as 10) in ’n wydverspreide tendens binne die blok toegeslaan. Ten spyte daarvan dat hierdie geïnfekteerde stokke ’n vroeë dood gesterf het en nie uit die wingerd verwyder is nie, kon tot en met die uiteindelike uitkap van die blok (as gevolg van rolblaar) geen visuele verspreiding van Shirazsiekte na spesifiek naasliggende stokke binne dieselfde ry(e) waargeneem word nie. Morfologiese reaksies/veranderings Kenmerkend by stokke geassosieerd met Shirazsiekte (visueelgeïnfekteerd) is die pap voorkoms daarvan wat tesame met ’n afname in groeikrag die indruk van kleiner stokke (korter lote met minder en kleiner blare) aksentueer (Foto’s 225 & 226). Die mees opvallende eienskappe van sodanige stokke is die voorkoms van groen, rubberagtige lote wat nie aan normale lignifikasie onderwerp word nie – om sodoende ’n hangende formaat aan te neem (Foto’s 227 & 228). In tipiese gevalle is hierdie lote met talryke kurkstippels bedeel (vanaf die basisse), wat in meeste gevalle so naby mekaar voorkom dat ’n inmekaarvloeiende indruk – wat ’n noue ooreenkoms met lengtebarste toon – geskep word (Foto 229). Met die verloop van die seisoen word lignifikasie by sommige lote totaal agterweë gelaat – waarna dit van groen tot byna swart verkleur om deur afsterwing (as gevolg van winterkoue) opgevolg te word. Karakteristiek by geïnfekteerde stokke is hergroei (aan die punte van ongelignifiseerde, groen lote) nadat blaarval reeds ver gevorder is (Foto’s 230 & 231). Benewens die kleiner formaat word blare aan tipiese verkleuringspatrone (vanaf die rande tot algehele rooi/rooi­ bruin verkleuring) onderwerp (Foto 232), terwyl baie láát blaarval – selfs teen middelJulie – as addisioneel kenmerkend van Shirazsiekte beskou word (Foto 233). Die voorkoms van kleiner trosse met korrelgroottes wisselend van klein, groen en onderontwikkeld tot feitlik normaal – as resulterend van onder andere swak set en klein, swak ontwikkelde blomtrosse (Foto 234) – kan in kombinasie met die afwesigheid van trosse op waterlote (wat in reaksie op die afsterf van toegekende draers voorkom) as van die belangrikste bydraende faktore tot drastiese oesafnames by geïnfekteerde stokke beskou word (Foto 235).

146 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika

Made with FlippingBook Ebook Creator