’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD
VIRUS- EN VIRUSAGTIGE SIEKTES Gleufstam en skurfbas ( rugose wood -kompleks) 4.3
Gleufstam Gleufstam (ook bekend as legno riccio , stamverpitting of rugose wood ) word met ’n drastiese agteruitgang van geïnfekteerde stokke vereenselwig. Kenmerkende gedragspatrone wat hiermee geassosieer word, is weerspieëlend van verdwergde groei (kleiner stokke), terugsterwing, uitermate vertraagde bot en omvangryke oesverlagings – om in meeste gevalle deur die totale afsterf van stokke opgevolg te word (Foto 208). Tiperend van gleufstam is swellings (dikker bas met ’n skurwe oppervlakte) wat dikwels aan die bokante van entlaste voorkom – met bostokstamgedeeltes wat opvallend dikker in vergelyking met dié van onderstokke vertoon (Foto 209). Karakteristiek visueel waarneembare abnormaliteite, wat ten beste deur basverwydering blootgelê word, word deur langwerpige vergleuwing en verpitting van die onderliggende hout geaksentueer, wat óf by onder óf bostamgedeeltes óf by beide kan voorkom (Foto’s 210, 211, 212 & 213). Anatomiese veranderings/reaksies wat deur gleufstam geïnduseer word, kan aan ’n abnormaal funksionerende kambium wat tot abnormale gleuwing op die xileemsilinder aanleiding gee, toegeskryf word. Uitermate baie parenchiematiese floëemweefsel word ten koste van xileem in die aangetaste areas gevorm. In normale sones langsaan word weer normale floëem en xileem gedifferensieer, wat daartoe lei dat die kambium ’n golwende voorkoms aanneem. Die kurkkambium volg dieselfde topografie as die vaatkambium en sodoende word die inhamme (gleuwe) in die floëem regoor die letsels in die xileem gevorm (Foto 214). Wanneer die dooie, skurwe bas (Foto 215) verwyder word, is holtes en gleuwe dus ook op die buiteoppervlak van die onderliggende weefsel sigbaar en kan die dikwels diepstrekkende aard daarvan ten beste met dwarssnitte (deursaag van stamgedeeltes) waargeneem word (Foto 216). Uiteraard kan verwag word dat as gevolg van sodanige omvangryke anatomiese veranderings/reaksies – wat oor tyd in intensiteit toeneem – enige wingerdstok dit onmoontlik sou vind om op fisiologiese vlak normaal te funksioneer (veral indien dit nog boonop aan stres blootgestel word) om gevolglik in meeste gevalle tot uiteindelike afsterwing verdoem te word. Skurfbas Globaal beskou, word skurfbas – in samehang met vertraagde bot, afsterwing van lote en láát blaarval – met ernstig verswakte groeikrag en aansienlike/totale oesverliese, vereenselwig. Karakteristieke kenmerke hiervan word met oneweredige/onvoldoende rypwording (verhouting) van sommige lote by geïnfekteerde stokke geassosieer (Foto 217). Sodanige lote, waarvan die bas verdik en sponserig (rubberagtig) vertoon, openbaar ’n neiging om afwaarts te buig (hang) met regopgroeiende punte, ten gevolge waarvan ’n sekelrige voorkoms daaraan verleen word (Foto 218). Langwerpige barste/krake wat hoofsaaklik in internodiale swellings – wat deur oormatige proliferasie van sekondêre floëem geïnduseer word – aan die basisse van bogenoemde lote voorkom, word as baie kenmerkend van skurfbas bestempel (Foto’s 219 & 220). Aanvullend hiertoe en
136 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Made with FlippingBook Ebook Creator