’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD
VIRUS- EN VIRUSAGTIGE SIEKTES Rolblaar 4.2
Verspreiding Toetredes van rolblaar tot veral nuutgevestigde produksieblokke kan as ’n direkte uitvloeisel van herinfeksie by virusgereinigde materiaal uitgesonder word. Die normaalweg daaropvolgende verspreiding hiervan binne bepaalde blokke volg dikwels nie ’n spesifieke patroon nie en benewens die direkte betrokkenheid van erkende vektore – waarvan witluis as die bekendste en mees oorheersende beskou word – word die tempo daarvan boonop deur verskeie faktore beïnvloed. In hierdie verband is omvattende ondersoeke/navorsing deur Pietersen (2004/5; 2010) onderneem waarmee die belangrikste verspreidingspatrone gekwantifiseer kon word (Foto’s 188, 189, 190, 191, 192 & 193). Voortspruitend hieruit kon bedryfstoepasbare riglyne neergelê word waarvolgens rolblaarverspreiding vertraag of selfs totaal aan bande gelê kan word. Aanvullend hiertoe kon oorkoepelende navorsing rakende die wingerdviruskompleks (kyk Deel 4.1 van hierdie reeks) daartoe bydra dat spesifieke riglyne en protokols betreffende die bestuur van rolblaarwingerde en die beheer/ uitwissing van witluis (Foto’s 194 & 195) daargestel kon word, wat veral wanneer laasge noemde met biologiese beheer geïntegreer word, as besonder waardevol vir bedryfstoepassing beskou word (Carstens, 2001; LNR InfruitecNietvoorbij, 2004/5; Addison et al ., 2011 ea). Morfologiese veranderings/reaksies Alhoewel rolblaar oor ’n stelselmatige tydsverloop met kleiner stokke, korter lote, vertraagde uitbot, kleiner blare, later blaarval, asook met kleiner wortelstelsels vereenselwig word (Foto 196), kan blaarverkleurings en afwaartse rol van blaarrande – wat jaarliks gedurende midsomer/vroeë herfs na vore begin tree – as die mees kenmerkende, visueel waarneembare morfologiese reaksies by geïnfekteerde materiaal uitgesonder word. Uiteraard vind hierdie verkleurings/vervormingspatroon nie oornag plaas nie, wat meebring dat die volle intensiteit daarvan ten beste gedurende laat herfs/vroeë winter visueel waarneembaar is. Benewens afwaartse rol van blaarrande is sodanige situasies by rooidruifkultivars weerspieëlend van ’n tussennerfse verrooiing en by witdruifkultivars van ’n tussennerfse vergeling van blaarweefsel – met in beide gevalle normaal groengekleurde primêre en sekondêre nerwe (insluitende ’n nou strook weefsel rondom wat groen bly) (Foto’s 197, 198, 199, 200, 201 & 202). Aanvullend hiertoe en tiperend van rolblaar is die voorkoms van kleiner, minder en losser trosse met gepaardgaande suboptimale korrelverkleuring, vertraagde rypwording en laer suikerkonsentrasies – ’n situasie wat met tydsverloop vererger om uiteindelik voortydige uitkappings (weens ekonomiese implikasies) te noodsaak (Foto’s 203, 204, 205 & 206).
120 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Made with FlippingBook Ebook Creator