’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD

VIRUS- EN VIRUSAGTIGE SIEKTES Netelblaar 4.1

H ierdie groep virusse wat wêreldwyd in alle wynboulande voorkom, word met netelblaar, geelmosaïek en nerfbandvergeling geassosieer – as drie biologiese rasse wat op grond van geïnduseerde abnormaliteite gegroepeer word en dikwels ook in kombinasie voorkom. In opvolging van die oordrag na plantmateriaal (hetsy deur enting of deur voedingsaksies van aalwurms as grondgedraagde vektore) beweeg netelblaargeassosieerde viruspartikels (Foto 165) met groot gemak van sel tot sel in alle rigtings en word ’n situasie van ernstige ingryping op die produktiwiteit en lewensverwagting van stokke aan die gang gesit. Gepaardgaande hiermee word die toetrede van karakteristieke, visueel waarneembare abnormaliteite (veral gedurende die vroeë groeiseisoen) geïnduseer – wat egter afhangende van die virusras(se) soos betrokke mag wees, aansienlik kan varieer. By netelblaar opsigself is blaarverkleuring en vervorming baie kenmerkend en word vereenselwig met groter/wyer bladsteelsinusse, asimmetriese bladskywe en hoofnerwe wat na mekaar getrek word om ’n waaieragtige voorkoms aan blare te verleen (Foto’s 166 & 167), terwyl verskillende patrone van chlorotiese vlekke ook voorkom (Foto 168). In teenstelling hiermee word geelmosaïek en nerfbandvergeling nie met blaarvervorming geassosieer nie, maar word gekenmerk deur verskeie patrone van heldergeel verkleurings wat van onreëlmatig verspreide vlekke tot algehele vergeling van blare varieer – soos by geelmosaïek (Foto’s 169 & 170). By nerfbandvergeling is hierdie verskynsel soms rondom die nerwe gelokaliseer, of kan selfs in die formaat van gelerige chlorotiese lyne of ringe voorkom (Foto’s 171 & 172). Dit spreek vanself dat hierdie verkleuringspatrone baie verwarrend (Foto’s 173 & 174) in terme van suksesvolle probleemidentifikasie kan wees en word aanbeveel dat verdagte materiaal aan spesifieke virusopsporingstegnieke ter bevestiging onderwerp word. Gepaardgaande met bostaande verskynsels kan verdwergde lootgroei met ’n “zigzag”groeipatroon en die voorkoms van verkorte internodia, asook dubbelnodia as kenmerkende eienskappe van netelblaarinfeksie beskou word. Abnormale lootvertakkings kom ook dikwels voor (Foto 175). Die voorkoms van erge afloop/millerandasie (Foto’s 176, 177 & 178) kan as die belangrikste bydraende faktor tot verlaagde produktiwiteit by netelblaargeïnfekteerde stokke beskou word. Alhoewel sodanige situasies aan verskeie oorsake toegeskryf kan word, kan dit in hierdie geval verbandhoudend wees met kleiner/onderontwikkelde wortelstelsels in samehang met ’n verlaagde fotosintetiese kapasiteit soos deur blaarverkleining/verkleuring teweeggebring word. Soos bekend is veral sitokiniene, gibberelliene en ouksiene ten nouste betrokke by die set van korrels en daaropvolgende groei en ontwikkeling. Hierdie hormone tree nie afsonderlik op nie, maar ’n baie fyn balans en wisselwerking vind plaas ten einde uiteindelike optimale druifkwaliteit en kwantiteit te verseker. Daar kan geredeneer word dat weens kleiner getalle wortelpunte by geïnfekteerde stokke minder sitokiniene geproduseer word wat aldus aanleiding gee dat die balans versteur word. Dit, tesame met onvoldoende reserwes – soos deur ’n verlaagde fotosintetiese kapasiteit aangewakker word – mag tot kleiner korrels en trosse in kombinasie met verdwergde lootgroei (kleiner stokke) aanleiding gee.

112 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika

Made with FlippingBook Ebook Creator