Vinpro Tegniese Oesverslag 2025
Oorsig
Daar heers groot opwinding oor die sprokies verhaal wat tydens die 2025-seisoen afgespeel het. Volgehoue matige en droë toestande het gesorg vir druiwe van uitstekende gehalte. Syfers wat deur wingerdkundiges en produsente-kelders deurgegee is, strook met die tendense wat reeds vroeg in die seisoen waargeneem is. Ten tyde van skrywe van die verslag (Mei 2025) word die totale oes op 1,244 miljoen ton geskat, 11,4% hoër as die piepklein 2024 oes. Die kwalitatiewe 2025-oes bly daarom vergelykenderwys steeds laag teenoor die jaarlikse gemiddelde produksie wat oor die afgelope twee dekades gerealiseer het. Die grootste beweegredes hiervoor is steeds die afname en veroudering van die nasionale
wingerdstand wat jaar op jaar met 1 304 ha afneem en tans op 86 544 ha staan. Die 2024-na-oesperiode was gemerk deur warm, droë en winderige toestande, wat gesonde lowers tot gevolg gehad het en die opbou van koolhidraatreserwes gefasiliteer het. Laer as gemiddelde herfs- en vroeë winterreënval het die herstel van die wingerde na die oestyd vertraag. Rekordwinterreëns in Julie (Figuur OS 1) het egter die tendens omgekeer en vir die derde agtereenvolgende jaar gelei tot oorstrominge langs rivieroewers. Skade was grotendeels beperk tot infrastruktuur. Hierdie reëns het wel die opgaardamme aangevul, wat voldoende besproeiingsvoorrade vir die groeiseisoen verseker het.
VINPRO TEGNIESE OESVERSLAG 2025 3
Made with FlippingBook - Online catalogs