SATI Riglyne vir die Voorbereiding van Tafeldruiwe in Suid-Afrika vir uitvoer 2025/2026

• Pas suierprogram aan om by die kultivar te pas. • Behandel teen witroes en donsskimmel. • Dien spoorelemente toe indien nodig.

• By kultivars en wingerde met lae vrugbaarheid kan sterk lote sonder trosse wat naby die stam van die stok geleë is, teruggesny word na twee tot drie internodes. Sylote ontwikkel dan wat meer vrugbaar as die primêre loot kan wees. Dit is belangrik om dit vroeg te doen, want as die blaredak te dig raak, ontwikkel die sylote swak. Net voor blom tot in blom Net sekere aspekte word hieronder genoem. Verwys na die beskrywings van spesifieke

kultivars vir volledige besonderhede. • Verseker optimale besproeiing. • Tip of top wingerde wat moeilik set. • Behandel toepaslike kultivars met gibberelliensuur vir uitdunning.

• Ringeleer vir beter set. Ringelering in hierdie stadium sal tot klein korreltjies (bokhael) aanleiding gee. Sorg dat stokke voor en tydens ringelering onder geen vogspanning verkeer nie. • Pas oesbeheer by alle vrugbare kultivars reeds voor blom toe deur een tros per loot te laat. • Verwyder die rankie van blomtrosse, veral op Crimson Seedless en Sugranineteen (Scarlotta Seedless ® ), waar hulle sterk ontwikkel en trosse kan vasdraai. • Behandel teen witroes, donsskimmel en botritis. • Behandel met sagte middels teen blaaspootjies en snuitkewers. Blaaspootjies oorleef op sitrus, saaduie, lusern, dekgewasse en onkruid. Sodra die kappies op druiweblomme kraak, beweeg hulle in en voed op stuifmeel. Hulle beskadig ook die vrugbeginsel en veroorsaak die tipiese skurwe merke op korrels. Sekere kultivars is meer vatbaar vir skade. • Maak lote vas of steek deur. • Blaartoedienings met lae konsentrasies (1.0%) bi-uret ureum verskaf goeie resultate by kultivars met kompakte trosse wat swak reageer op uitdunning met gibberelliensuur. Net na blom (set van korrels) • Dien tweede stikstofbemesting toe. Wees versigtig om nie te veel stikstof na set by baie vroeë kultivars te gee nie. Hoë stikstofvlakke in druiwe by oes kan bederf bevorder. • Doen die eerste oesbeheer sodra trosse klaar geset het en trosse wat wel optimaal geset het, onderskei kan word. • By 4–5 mm korreldeursnit, ringeleer die toepaslike wingerde vir beter korrelgrootte en -aanhegting. Maak seker dat vogstres voor en tydens ringelering vermy word. • Behandel die toepaslike kultivars met gibberelliensuur vir korrelvergroting. • Breek blare weg wat direk aan trosse raak. • Behandel teen botritis, witroes en donsskimmel. • Dien magnesium toe teen rouband indien nodig. 6–8 mm korreldeursnit (ertjiekorrel) • Finale oesbeheer. Toesig is nou baie belangrik, aangesien oesbeheer die gehalte van die oes bepaal. • Doen die eerste uitknip op toepaslike kultivars. • Gaan voort met trosvorming soos omskryf in kultivarbeskrywings. • Hou die venster in die lower dak oop. ’n Optimale wydte is sowat 50 cm. • Behandel teen botritis, witroes en donsskimmel.

SATI RIGLYNE VIR DIE VOORBEREIDING VAN TAFELDRUIWE IN SUID-AFRIKA VIR UITVOER 23

Made with FlippingBook Annual report maker