SATI Riglyne vir die Voorbereiding van Tafeldruiwe in Suid-Afrika vir uitvoer 2025/2026
Net voor ogieswel Stokke kom nou uit ’n toestand van rus om met ’n nuwe groeiseisoen te begin. Wortelgroei begin sodra grondtemperature bo 10 °C styg (dit kan reeds voor bot wees). Wanneer die wortels begin aktief raak, veroorsaak positiewe worteldruk sapvloei wat by snoeiwonde sigbaar is – die lote huil. • Moniteer die grondvog en besproei indien nodig. • Pas chemiese beheer teen witluis toe. Let op onthoudingsperiodes. • Spuit hardnekkige onkruid met sistemiese middels. • Verwyder mak wortels en maak seker dat entlaste nie met grond bedek is nie. Ogieswel Behandel teen wingerdknopmyt, streepvlek en swartroes. 1–2 cm lootlengte • Behandel teen streepvlek, swartroes en vlamsiekte. Wanneer koper aanwending oorweeg word, pasop vir spuitskade tydens koue, nat weer. • Begin met witroesbeheerprogram. 5 cm lootlengte • Doen opvolgbehandelings teen witroes, streepvlek en swartroes. • Dien die eerste stikstofbemesting toe indien nodig. Die riglyn vir wingerde met normale groeikrag is 40 kg/ha. Gebruik ’n nitraatbevattende produk waarop die wingerd vinnig reageer. 10 cm lootlengte • Behandel teen witroes, vlamsiekte, streepvlek, oogmyt, donsskimmel en wingerdknopmyt. • Doen slakbeheer. 14 dae na 10 cm lootlengte • Behandel teen witroes, donsskimmel, oogmyt, wingerdknopmyt en snuitkewers. Gebruik die sagste middels in laasgenoemde twee gevalle. • Dien spoorelemente toe indien nodig. • By jong wingerde word alle lote en sylote weggesuier, behalwe ’n hoofloot na die draad toe en ’n ekstra loot wat getop word. 40–50 cm lootlengte • Op hierdie stadium kan met bespuitings van lae konsentrasies (1.0%) bi-uret ureum begin word om groeikrag by swak groeiers aan te help, asook by kultivars met kompakte trosse, swak groeikrag en waar chemiese uitdunning nie suksesvol is nie. Gewoonlik word een maal per week gespuit, maar dit kan verhoog word na twee maal per week indien nodig. Teen 1% kan dit saam met ander produkte gespuit word, maar teen 1.5% moet dit alleen gespuit word. • Verwyder slegs blare wat direk aan die trosse raak. Suier is in dié stadium kritiek vir die bepaling van vrugbaarheid in die volgende seisoen. Doen dit dus met oorleg! • Verwyder alle dubbele lote. Behou die loot met die beste tros. • Verwyder alle lote sonder trosse. • Verwyder minderwaardige lote en lote in swak posisies. • Verwyder slegs sterk groeiende sylote van die basis van die groen loot tot en met die tros indien nodig.
22 SATI RIGLYNE VIR DIE VOORBEREIDING VAN TAFELDRUIWE IN SUID-AFRIKA VIR UITVOER
Made with FlippingBook Annual report maker