SATI Riglyne vir die Voorbereiding van Tafeldruiwe in Suid-Afrika vir uitvoer 2025/2026
Jaarkalender vir die verbouing van tafeldruiwe
Die doel van ’n jaarkalender is om die geheelbeeld van tafeldruifverbouing, gesien oor ’n seisoen, te skep. Die wingerd is ’n meerjarige, bladwisselende gewas wat in uiteenlopende klimaatstoestande geplant word. Gevolglik is besluit om die jaar in 17 fenologiese stadia te verdeel. Blaarval (Herfs) Die stok gaan in rus vir die komende winter. Die volgende kan na blaarval gedoen word: • Begin met skoonsnoei. • Bestry kweek voor die winter begin. • Saai dekgewasse. Vir produksiegebiede in die Wes-Kaap word saaityd van middel Maart tot middel-Mei aanbeveel, afhangend van die gebied en dekgewassoort. Vir die somerreënvalgebiede word saaityd vanaf middel-Maart aanbeveel. Hierdie aanbevelings is gekoppel aan die optimale grondtemperatuur vir die ontkieming van dekgewassaad (10–18°C). Indien te laat gesaai word, wanneer die grondtemperatuur te laag is, sal ontkieming en die dekgewasstand wat verkry word, benadeel word. In somerreënvalgebiede dekgewasse besproei word. • Verwyder los bas vir effektiewe ringelering en witluisbeheer in die winter. Winter Die stok verkeer nou in rus. Doen die volgende: • Kyk na instandhouding van die prieelstelsel deur pale te vervang waar nodig en drade styf te span. Inspekteer ook die ankerdrade. • Rig prieelstelsels vir jong wingerde op. • Maak kartonne as dit reën. • Bestry witluis gedurende dié tydperk. In ernstige gevalle moet die behandeling herhaal word. Behandel net besmette stokke. • Bestry miere met kolbehandelings waar neste gesien kan word. • Beheer slakke. • Snoei die wingerd stomp op die geskikte datum en volgens die geskikte metode. • Maak langdraers vas. • Behandel ogies met ’n rusbreekmiddel waar van toepassing. • Vorm jong wingerde wat in die vorige groeiseisoen genoeg gegroei het (kordonarm deursnit meer as 8 mm of dikker as ’n potlood). Sny stokke wat te swak gegroei het tot twee ogies bo die entlas terug. • Snoei tweedebladstokke so laat as moontlik vir beter uitbot. Jong stokke se laer reserwes veroorsaak swakker uitbot. • Volg ’n onkruiddoderprogram later in die winter.
SATI RIGLYNE VIR DIE VOORBEREIDING VAN TAFELDRUIWE IN SUID-AFRIKA VIR UITVOER 21
Made with FlippingBook Annual report maker