La Rochelle Yearbook 2025

ONTLUIKENDE SKRYWERS

Ek het in my kinderjare vas geglo dat ek ’n speurder wou wees. Een met ’n lang jas en toerusting om haar te help. ’n Speurder soos in die films – wat geheime ontdek en mense red. Ek het altyd gehou van geheime ontrafel, inligting opspoor oor verrassingspartytjies of om uit te vind wat in my gekenke is. Dit het my hart vinniger laat klop om reg te raai en my pa te hoor sê: “Ja, Isabelle, dit is ’n nuwe boek oor die mens se wangedrag in die Ooste.” Ek het as ’n dogtertjie in ons buurt se strate gaan soek na ’n verlore kat of sleutels wat net verdwyn het. My eerste groot ondersoek was na ’n verlore sonbril. Ek en Amanda, die meisie wat haar sonbril verloor het, het vir ure gesoek. Binnne haar kas, die drom, haar sakke en toe vind ons dit. In haar suster se laai. As tiener het my ondersoeke meer ernstig geword. Het hy haar werklik lief? Watter gedigte gaan in die vraestel wees? Is sy swanger? Dit het my bloeddruk laat styg om laat in die aand in die skoolgebou rond te stap op soek na die een oop klaskamer wat moontlik vir my antwoorde kon gee. My pa het my visie en idees oor my toekoms gehaat. Hy werk as een of ander hoof van een of ander tak in die regering. Alles is vir hom swart of wit. Sy broeke, sokkies, hemde en siening van die lewe. Hy weet nie wat dit beteken om buite die boks te dink nie. Hy het altyd vir my gesê: “Los die wêreld se geheime uit. Dit is geheime vir ’n rede.” Die amptelikste ondersoek waarby ek betrokke was, was aan die Witwatersrand. ’n Nege-jarige dogtertjie het verdwyn. Sy is die oggend by haar skool afgelaai en nie weer gesien nie. Dit het ons twee weke geneem om net op die regte plek te begin soek. Die dag toe ons haar in ’n verlate gastehuis vind, het ek ’n gevoel gehad dat daar ander geheime ook daar wegkruip. Ek het weggedwaal van die groep en olierige voetspore gevolg wat my al dieper die duisternis in gelei het. Ek het nie enige voetstappe agter my gehoor nie. Net die skoot. Eers het dit ver geklink, maar toe my univorm begin nat voel, en ek na my rooi vingerpunte staar, het ek besef dat ek alleen geheime agtervolg en wil verklap. Ek het in my kinderjare vas geglo dat geheime ontrafel moet word, maar miskien was my pa reg. Nie alle geheime moet ontrafel word nie. Michelle Smith Gr. 12 Afrikaans Huistaal Ek het in my kinderjare vas geglo dat ek ’n speurder wou wees

’n Lewenslange lied Binne ’n oogwink is alles verby. In hierdie jaar het ek my wildste drome beleef en my realiteit het, by tye, soos ’n sprokiesverhaal gevoel. Net soos elke roos sy laaste roosblaar aan die einde van ’n seisoen verloor, het elke opvoering sy laaste applous. Alles wat oorbly, is magiese herinneringe, soos uit ’n sprokiesverhaal. Hierdie jaar se musiekblyspel Beauty and the Beast sal lewenslank in my hart soos ’n lied bly speel. Matriek is die uitdagendste jaar van enige leerder se skoolloopbaan met al die toetse, buitemuurse aktiwiteite en akademiese druk om goed te presteer. Deur al die uitdagings het ek deur gedruk en dit reggekry om hierdie jaar my rol as Belle in die musiekblyspel ’n sukses te maak en in al my klasse by gehou. Eers was dit ’n groot uitdaging om alles te balanseer, maar nou kan ek sê dat dit alles die moeite werd was. Noudat die musiekblyspel verby is, is ek baie nostalgies en verlang na ure se dans en sang, maar ek verlang die meeste na die mense wat hierdie ervaring vir my magies gemaak het. Hierdie mense het soos familielede in my hart in gekruip. Ek onthou hoe ek en Pieter vir ure saam kon lag, Leon saam met my dans en hoe Lamees elke opwarming gelei het. Ek onthou die ure se harde werk en toewyding wat ek, my maats en veral juffrou Nel in die musiekblyspel beleef het. Herinneringe oor hoe Safiyah en Pieter se sang ons almal betower het, speel oor en oor in my gedagtes. Ek sien nog steeds die glinster van my kroon, hoe my rok se goudgeel liggies sy lig uitstraal en ek kan die suur reuk van die vals bloed op Leon se hemp ruik. Net soos ’n sprokiesverhaal sy laaste bladsy het, is dit nou ook tyd om hierdie hoofstuk van my skoolloopbaan af te sluit. Ek kan met volle vertroue terugkyk en sê dat Beauty and the Beast die hoogtepunt van my matriekjaar is. Ek sal vir ewig verlang na my “Days in the sun” en altyd die deuntjies van die musiekblyspel in hart dra. Gabrielle Balie Gr. 12 Afrikaans Eerste Addisionele Taal Ek het in my kinderjare vas geglo dat die wêreld nie kan stilstaan nie. Ek was reg in terme van tyd en perke. Buite die grense van die heelal is daar egter breukdele van talle wêrelde in en rondom ons. Hier is dit mooi. ’n Sagte plek. Hier is daar stilte en stadsliggies, chaos en seer. Dit is hier waar die poorte van die hemel oopgaan, en waar klein stukkies Aarde toe kom. Megan Jansen Gr. 12 Afrikaans Huistaal Wanneer die dood net na middernag langs jou bed kom staan om te kom jammer sê, staan die wêreld nie net stil nie, dit breek. Splinters van herinneringe – van ’n hele leeftyd – kleef aan wimpers, aan koue hande, verlate hawens en leër oomblikke. Die musiek word stil. Sekondes tik verby, maar ek staan en wag, want as ek net haar hand kan vashou, sal sy oukei wees. Sy het dan belowe. Die wêreld kom tot stilstand wanneer iemand voor my sit wat ruik na reën en donker blomme. ’n Vreemdeling, maar die bekende melodie van haar energie kom uit ’n vorige lewe. Haar woorde skets skakerings van winter wat steeds iewers in my ingewande wegkruip. As sy dit eendag kom haal, sal ek haar bedank, want haar wêreld het vir ’n rukkie myne geword.

Hoër Meisieskool La Rochelle | Girls’ High School | 43

Made with FlippingBook - Online catalogs