La Rochelle Yearbook 2025

ONTLUIKENDE SKRYWERS

Dit is oukei om nie perfek te wees nie

Perfeksionisme is ons generasie se ondergang. Dit is opvallend hoeveel kinders ontevrede is met hulself. Ons leef in ’n tydperk waar prestasie hoër geag word as groei of gesonde balans. Tans het ons die hoogste syfer van selfbeeld- en geestesgesondheidsprobleme ooit. Elke mens se persoonlikheid is net so uniek soos hul vingerafdruk. Geen mens het al ooit hul volle potensiaal bereik deur hul ware self te onderdruk nie. Om voor te gee spaar jou miskien van mense se oordeel en skerp tonge, maar ’n masker weeg swaarder op jou hart as ander se woorde. Wees jouself, nie perfek nie. Probeer is die beste geweer. Nee, jou ma het nié gejok nie. Moenie weens vrees jou talente vir die wêreld wegsteek nie. Niemand geniet dit om te sukkel nie, maar dit is die enigste manier hoe ’n persoon se vaardighede (en karakter) kan ontwikkel. Deursettingsvermoë loop oor tot in elke deel van jou lewe. Onthou: aanhouer wen. Wees vasberade, nie perfek nie. Daar is net een jy! Kyk met verwondering in die spieël. Niks móét perfek wees voordat dit mooi kan wees nie. Moenie daarna streef om perfek te wees nie. Wees jouself. Dis is dalk nie perfek nie, maar dit is genoeg. Kara Martins Gr. 12 Afrikaans Huistaal

Kerkstraat 5 Beaufort-Wes 6970 27 Augustus 2025

Liewe Mamma en Pappa Ek onthou die dag in graad 7 toe julle vir my “Pollie” begin noem het. “Pollie ons gaan Paarl toe,” het deur die Toyota weergalm toe ons deur die Hugenote-tonnel gery het. Dit voel soos gister toe ek my onderhoud met juf. Conradie gehad het, maar tog het ek die Paarl oorwin. Alles te danke aan julle. Dit is ’n bittersoet gevoel om oor die see van matrieks, wat hulle ouers by uitstapdag omhels, te staar. Julle was tydens my hoërskoolloopbaan nie fisies naby aan my nie en daar was vele kere wat ek so kwaad was omdat julle so ver van my skool af gebly het. Tog was julle net ’n oproep ver. Julle het julle hande stomp gewerk om vir my die geleenthede te bied wat ’n klein Karoo-skooltjie nooit sou kon bied nie. Vandag skud ek La Rochelle se stof van my skoene af. Ja, dit is hartseer, maar dit is te danke aan julle dat ek haar kon ontmoet en leer ken het. Daar bestaan nie ’n beter ondersteuningsnetwerk as julle nie. Groete. Pollie Jana Herselman Gr. 12 Afrikaans Huistaal In my kinderjare het ek vas geglo... Ek het in my kinderjare vas geglo dat die wêreld nie kan stilstaan nie. Almal word van kleins af geleer dat tyd nie gekeer kan word nie. Dis wat almal altyd sê... of altans diegene wat na die lewe kyk deur die wit en swart lens van realiteit. Mense wat nie weet dat drome kan bloei en gedagtes kan asemhaal nie. Maar wat is realiteit werklik? Waaruit bestaan dit? My herinneringe is versier met al die oortuigings wat ek as kind gehad het. Vreemde dinge. Dinge van kleur. Toe ek sewe jaar oud was, het ek al ophou glo aan die tandemuis en Kersvader, maar ek het nog altyd geglo dat die wêreld nie kan stilstaan nie. Die Aarde hou aan draai, het ek in die Natuurwetenskapklas geleer waaroor ek in graad 5 so mal was. Dit was voordat die dromer in my gebore is. Voordat ek besef het dat realiteit nie in deursigtige logika lê nie, maar in die sagte vlees tussen iets en niks, in die mikroskopiese spasie tussen 99,9999% en die 0,00001% materie waaruit atome bestaan. Waar pas ons in? Ek weet nie, maar ek wil deur die doringvelde van amper en nooit weer nie en ek onthou ronddwaal. Dit is waar die wêreld stilstaan. Waar die mooi jou asem steel en sterre in jou oë plaas. Die wêreld het stilgestaan terwyl ek deur speelgronde gestap het met naïewe vreugde wat deur elke lag weergalm. My siel, my verbeelding, was ’n heelal op sy eie. Die wêreld staan stil tydens elke sonsondergangs, as die horison duisende skerwe van melancholie en geheime uitspoeg.

Ek wens ek kon … Ek wens ek kon ontsnap. Soms voel ek soos ’n ysterpot wat sekondes weg is van oorkook of ’n ballon wat al so hoog gestyg het dat ek gaan bars. Het jy al so gevoel? Die dag begin met sonbesies wat in my ore skree en natgeswete palms vir die dag wat voorlê. My lysie lê langs my bed en koggel my. Onmiddellik is my nagrus vergete en die reënwolk het weer sy plek bo my kop ingeneem. Sodra ek ons huis in die motor se truspieëltjie sien, is die wêreld se verwagtinge weer vierkantig op my skouers. “Wees vriendelik!” “Staan op vir jouself!” “Hoekom is jy so stil?” “Jy praat hopeloos te veel!” “Fokus op akademie!” “Doen sport!” “Jy eet te veel!” “Jy pik soos ’n voëltjie.” Watter stem moet ek glo? As ek kon ontsnap, sou ek vir altyd op Voëlklipstrand in Hermanus wou bly. Die yskoue genot van ’n draairoomys. Die soet sap van ’n waatlemoen wat by my ken afdrup en die warm gevoel van sonstrale op my wange. Dalk sou ek ontsnap na die Swartberge van Prins Albert. Die smaak van ’n warm “Lazy Lizard”-vleispastei. Die sorgelose speel-speel naellope in my oupa se vakansiehuis se tuin en die sterre wat so laag in die hemelruim hang dat dit voel asof ek met my vingerpunte aan hulle kan raak. Gelukkig kan ek elke aand in my drome na hierdie gunstelingplekke gaan. Die prentjie wat ek skets, klink dalk donker en swaar, maar dit is eintlik net ’n spieëlbeeld van ’n ware tienerkop. My lewe bring ook grenslose blydskap, maar partykeer wens ek steeds ek kon net ontsnap… Zarah van Zyl Gr. 9 Afrikaans Huistaal

42 | Hoër Meisieskool La Rochelle | Girls’ High School

Made with FlippingBook - Online catalogs